MOSSELBAAI NUUS - Tannie Eva Scheepers van Friemersheim se 60ste verjaarsdagpartytjie wat op Saterdag, 27 April om 16:00 by die Kleinplaas AGS-kerksaal gehou sou word, is afgestel nadat haar kleinseun, Rizail Slotto (18) van Blanco en twee inwoners van Friemersheim, Samuel Williams (43) en Jerome Minnies (31) kort voor die verrigtinge sou afskop op die Kleinplaaspad verongeluk het.
Die bakkie waarin die mans met Scheepers se verjaarsdagkoek na die kerksaal onderweg was het in 'n kloof langs die pad afgestort en tussen 'n beboste gebied, bykans 100m verder tot stilstand gekom.
Die gebied is tussen die woongebied, Wolwedans en Friemersheim geleë.
'n Inwoner van Friemersheim, Christy Qhwelo (40) het vir Scheepers op Friemersheim opgelaai om haar na haar partytjie te neem toe hy oppad na die onthaalsaal die spore van motorbande oor die pad sien lê. Hy het dadelik besef daar is fout en het eers vir Scheepers by die saal afgelaai waarna hy terug na die toneel is.
Qhwelo het 'n ent afgestap en op bokse en die Nissan-bakkie se nommerplaat afgekom. Hy het die Groot-Brakrivier-polisie ontbied waarna polisiebeamptes op die motorwrak afgekom het. Die wrak het egter in 'n gebied gelê waar dit moeilik bereikbaar was.
Paramedici is ook na die toneel ontbied en het die oorledenes op die toneel dood verklaar.
Bykans 60 mense sou die partytjie bywoon maar nadat die hartseer tyding aan die familie oorgedra is, is almal huistoe. Intussen het die polisie en nooddienspersoneel besluit om die hulp van 'n AMS-helikopter in te roep om die wrak en die liggame van die oorledenes te verwyder.
Weens digte mis en die beboste terrein kon die operasie egter eers die volgende dag, op Sondag, 28 April uitgevoer word.
'n Span van bykans 30 mense het aan die operasie deelgeneem, wat teen 07:00 begin het en teen Sondagmiddag is die liggame suksesvol uit die kloof verwyder.
Die bakkie gaan na wat verneem word op die toneel bly. Die families het die liggame by die lykshuis op Mosselbaai uitgeken en was teen die ter perse gaan besig om begrafnisreëlings te tref.
Strafbare mansslag
Die oorsaak van die ongeluk is nie bekend nie en die polisie vermoed die bestuuder het vermoedelik beheer oor die voertuig verloor.
Die polisie ondersoek 'n saak van strafbare mansslag.
Verskeie sosiale media gebruikers het op Facebook na aanleiding van 'n berig oor die voorval gevra hoe die polisie 'n saak van strafbare mansslag kan open wanneer almal in die ongeluk dood is.
Polisiewoordvoerder, kapt Malcolm Pojie sê in enige geval waar iemand in 'n motorongeluk dood is, word die dossier geopen.
"Die omstandighede word ondersoek en nie noodwendig 'n saak teen 'n persoon nie. Dit is slegs prosedure."
* Die voorval volg na 'n swart naweek op die Wes-Kaap se paaie. Verkeershoof, Kenny Africa sê altesaam 26 mense is sedert Vrydag tot Maandagoggend op die provinsie se paaie dood. Slegs een daarvan is 'n bestuurder, een 'n fietsryer en die res is almal passasiers wat in motorongelukke omgekom het.
Die span reddingswerkers het in twee verdeel en die toneel is bestuur vanaf die kloof waaruit die liggame verwyder is asook op die toneel waar die helikopter geland het.
Reddingswerkers het omstreeks 07:00 Sondagoggend in Langstraat by die Groot-Brakrivier-polisiestasie bymekaar gekom.
Die wrak van die bakkie gaan na wat verneem word op die toneel agter gelaat word.
Hierdie mense was almal betrokke tydens 'n vyfuur lange reddingsoperasie om die voertuigwrak en die drie liggame een-vir-een uit die kloof te haal.
Lees vorige artikels hier:
- Oorledenes se name bekend
- 3 liggame tydens intensiewe operasie uit wrak verwyder
- Bakkie stort by krans af, 3 oorledenes steeds vasgekeer
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'