MOSSELBAAI NUUS - Emil Scheepers (81), wat verlede week ná ’n stryd teen melanoomkanker oorlede is, het verskeie hoede gedurende sy leeftyd in Mosselbaai gedra.
Talle gemeenskapslede sal Scheepers onthou as die skoolhoof van Laerskool Park gedurende die 1980’s en -90’s.
Hierna was hy ook ’n raadslid en later raadsheer op die Mosselbaai-stadsraad, tot en met 2016.
Sy naam is by die Mosselbaai-gholfklub óók bekend. Hier was hy die klub se kaptein van 1996 tot 1999, en toe die president van 2000 tot 2003. In 2015 is hy ook danksy sy groot bydrae daar ’n lewenslid van die gholfklub gemaak.
“Vir my pa was dit altyd so belangrik om sy gemeenskap te dien, en sodoende ons te wys hoe om ’n goeie ouer en burger te wees,” sê Emil se seun, Rudi. “Hy was sy lewe lank betrokke by die kerk, die gholfbaan en die Hoërskool Punt se beheerliggaam - noem dit en hy was betrokke.
“Dit was ook ’n absolute voorreg om ons pa naby ons in die laerskool te kan hê. En natuurlik was ons almal, en is ons nog steeds, vreeslik trots op die positiewe impak wat hy gedurende sy tyd op die stadsraad op Mosselbaai en die wyer distrik gehad het.”
Rudi beskryf sy pa verder as ’n toegeweide, lojale man met ’n sterk morele raamwerk, ’n droë humorsin en min woorde - behalwe as dit regtig saak gemaak het.
Hy sê Emil was ook mal oor die 19de gat en het talle bande oor sy leeftyd op the gholfbaan gesmee. “Maar uiteindelik was hy altyd maller oor sy familie en sy plek by ons. En ons het dit geweet.”
Emil word oorleef deur sy vrou van 54 jaar, Hetsie, asook hul vier kinders en húl eggenote, en sewe kleinkinders.
Rudi sê sy pa was presies 81 jaar en 11 maande oud ten tyde van sy dood - gebore 28 Jun 1944 en gesterf 28 Mei 2026.
Die kanker was aggressief, en hy het vir 11 maande daarteen geveg. “Maar dit was tot die einde ’n stryd sonder pyn, waarvoor ons innig dankbaar is,” sê Rudi.
Vorige artikel:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’