MOSSELBAAI NUUS - Emil Scheepers, ’n voormalige raadslid van die Mosselbaai-munisipaliteit, is vanoggend, Donderdag 28 Mei, oorlede.
Die huidige onderburgemeester, Cliffie Bayman, het hierdie hartseer nuus vandag tydens die munisipaliteit se operaadsvergadering met die speaker, Venolea Fortuin, gedeel.
“Op die oomblik dink ons aan sy vrou en die hele familie. Ons het lank saam gewerk, Speaker, [...] en hy het ’n groot deel tot Mosselbaai-munisipaliteit bygedra.
“So ons harte en ons gebede gaan uit aan sy familie in hierdie hartseer tyd,” het Bayman gesê.
Fortuin het gesê die raad sal ook vir Scheepers in hul gedagtes hou. “Jy [Bayman] is inderdaad reg, hy het vir baie baie jare saam met ons in hierdie raadsaal gedien. Ons dink aan sy familie en ons sal hom vanoggend tot ons lys byvoeg, baie dankie.” (As standaardprosedure lys die raad elke maand die name van gemeenskapslede wat onlangs gesterf het. Daar word dan ook tydens die maandelikse raadsvergadering ’n oomblik van stilte vir hulle gehou.)
Die burgemeester, Dirk Kotzé, was weens ander verpligtinge nie by vandag se vergadering teenwoordig nie, maar het op sy Facebook-blad ’n huldeblyk aan Scheepers gedeel. Volgens Kotzé was hy ’n ware pilaar van die munisipaliteit.
“Sedert 1994 het hy sy gemeenskap met toewyding gedien as lid van die uitvoerende burgemeesterskomitee en voorsitter van tegniese dienste en toerisme.
“Raadsheer Scheepers het ’n groot rol gespeel in die stigting van die Diasfees en Sportfees, die vestiging van die ontsoutingsaanleg, en die ontwikkeling van die Mosselbaai-gholflandgoed - mylpale wat ons dorp tot nuwe hoogtes geneem het.
“Ek onthou sy eerste raad aan my toe ek as raadslid in 2013 begin het: ‘Moenie te veel praat nie, kyk net hoe alles werk.’ Daardie eenvoudige maar wys woorde het my loopbaan gevorm. Ek sien hom nog met sy klein Nokia-selfoon, waarmee hy nou en dan gedurende raadsvergaderings vir my ’n boodskap gestuur het. Hy was ’n groot mentor en ondersteuner vir my en vele ander raadslede, amptenary en gemeenskapsleiers.
“Ons eer sy nalatenskap en sy onwrikbare diens aan die mense van Mosselbaai. Mag sy vrou, Hetsie, en die hele Scheepers-familie troos in die herinneringe en die liefde wat hy agterlaat vind. Ons gedagtes en gebede is met julle in hierdie moeilike tyd.”
* Mossel Bay Advertiser het sedert die publikasie van hierdie berig verneem dat Scheepers se begrafnisdiens op Maandag 1 Junie om 11:00 by die NG Kerk Hartenbos gehou sal word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’