Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - “Gemeenskappe is die vesel wat die land aanmekaar hou. Wat ek vanaand hier ervaar het, gee my moed en baie hoop vir die kultuur in ons land,” het dr Danie Langner, besturende direkteur van die FAK vandeesweek op Hartenbos gesê.
Dr Langner het die oorhandigingseremonie van die eerste Inspirasie Vrou-toekennings in Mosselbaai en omgewing aan 15 plaaslike vroue in die Groot Trek-museum bygewoon.
‘n Spesiale toekenning is ook tydens die seremonie aan Jan en Jeanette Ellis van die Janine Stryk- en Wasmuseum op Hartenbos gemaak.
Fotogalery: FAK Inspirasie Vrou-toekennings
Net meer as ‘n jaar gelede, gedurende September 2019 het Elizma Smith, kultuurorganiseerder van die Wes-, Oos- en Suid-Kaap, ‘n kultuurnetwerk tydens ‘n vergadering by die Mossel Bay Advertiser se kantoor, gestig.
Gedurende Augustus 2020 het die FAK begin om toekennings aan vroue landwyd te gee. Hierdie vroue moet 'n wesenlike verskil in hulle gemeenskappe maak deur uit te hou, te bou en te volhard.
Kyk 'n video hieronder:
15 vroue
Nominasies is op grond van verdienste aan die FAK gestuur waaruit die bekroondes toe uiteindelik gekies is. Op Dinsdagaand, 10 November is elke vrou se motiveringsbrief tydens die oorhandigingseremonie voorgelees.
Onder die 15 besonderse talentvolle vroue, met uiteenlopende passies en beroepe, is ‘n ma-en-dogter: Joan en Cornelle Carstens. Beide is enorme steunpilare in die gemeenskap. Benewens ‘n juweel van ‘n teater, die Monroe teater wat hulle bestuur, is Cornelle ‘n verhoogkunstenaar in eie reg en ook ‘n bekende gemeenskapsjoernalis wat haar taal en kultuur op hierdie gebied bedien.
Iemand wat geen bekendstelling nodig het nie is die Lang Vrou en Afrikaanse kabaretdiva, Petronel Baard. Hierdie formidabele vrou het amper eiehandig die verborge kunstenaarstalente in die Suid-Kaap blootgelê. Haar opheffingswerk het tot gevolg dat diegene sonder stem die geleentheid kry om gehoor en ontwikkel te word. Petronel het dan ook die gehoor met ‘n paar pragtige nuwe skeppings uit haar pen getrakteer. Mordegai Erasmus, sanger van Groot-Brakrivier het saam met haar opgetree.
Annemarie Dellemijn word as ‘n engel beskryf. Hierdie liefdevolle, saggeaarde vrou dra almal se belange op die hart en onthou die fynste besonderhede van hul omstandighede. Saam met haar man, Anton, wat ‘n plaaslike raadslid is, dien hulle die gemeenskap met oorgawe.
Heleen Coertze, ‘n entrepreneur en gemeenskapsleier van formaat het al vele inisiatiewe op Groot-Brakrivier begin en deurgevoer. Hieronder tel die Muse-fees wat ‘n sonderlinge dorpsfees was, die Fragrance Route na Friemersheim asook ‘n aantal puik musiekuitvoerings en opvoerings.
Saam met haar is Elaine van der Walt van die Art@39 Long-kunsgallery ‘n groot inspirasie vir plaaslike kunstenaars. Sy was ook een van die groot geeste agter die Muse-fees wat omgewingsbewaring saam met kuns in die gemeenskap laat tuiskom het.
Marlise Labuschagne, assistant-streekorganiseerder van Helpende Hand in die Wes-Kaap is ‘n bondel energie met ‘n hart so groot en sag soos ‘n marshmallow. Sy het die vermoë om mense te mobiliseer en saam met haar te vat. Marlise het daartoe bygedra dat die Mosselbaai-tak van Helpende Hand onlangs as die tak van die jaar en hul voorsitter, Magriet Potgieter as voorsitter van die jaar aangewys is.
Amelia Thiat is ‘n kampvegter vir Kansa en word geken aan haar sagmoedige leierskap as omgeemens wat altyd haar gemeenskap ondersteun.
Lynn Honiball is ‘n baie bekende haarkapper in Mosselbaai. Sy is iemand wat met die gemeenskap om haar ‘n pad stap en vir baie mense help om hul droom te leef. Sy is een van Mosselbaai se legendes.
Genevieve Muller is ‘n vrou wat as leier in die gemeenskap uitstaan. As skoolhoof van die Diaz Primêre Skool, het sy haar eie dramagroep vir leerders wat onder haar leiding al baie toekennings ontvang het.
Mosselbaai se crafts-ikoon, Zandra Klapwijk het die Craft Art Workshop in Mosselbaai begin. Sy lei mense op in kunsvaardighede en maak self die pragtigste glaskunswerke uit herwinde glas. Sy hou daarvan om kultuurwerke te skep en daarom het sy aan elke wenner 'n stel plekmatjies geskenk waarop Afrikaanse volksliedjies tipies aan die FAK se liederebundel, aangebring is.
Denise Lloyd, bestuurder van die Hartenbos Seefront word as een van die "mossels van Mosselbaai beskryf". Sy ken die gemeenskap deur en deur en wend haar kennis en kundigheid tot voordeel van die dorp aan.
Drie van die genomineerdes kon ongelukkig nie die funksie bywoon nie, maar hul onderskeie lofliedere is deur Elizma besing. Die drie is: raadsdame Venolea Fortuin, wat op die munisipale raad dien en voorsitter van DAWN (die DA se Vroue-organisasie) se Oos-streek asook sekretaresse van die DA Oos-streek is; Adri van Nieuwenhuizen, besturende direkteur van Pink Trees For Pauline wat die land in pienk toedraai en geld vir hulp aan kankerpasiënte insamel en Karin Cupido, onder-voorsitter van MOCCA (Mossel Bay Creative Culture Association) en ‘n groot rolspeler om die kunste onder die gemeenskap te bevorder.
‘Verskriklik beïndruk’
Langner het gesê dat hy aanvanklik, voor sy eerstehandse ervaring hierdie week, werklik gewonder het wat die Janine Stryk- en Wasmuseum so besonders maak. Hy het egter tydens Dinsdagaand se seremonie beken dat dit ‘n ongelooflike ervaring was om deur die museum te stap. “Ek is verskriklik beïndruk. Om die geskiedenis van was en stryk op hierdie manier uitgebeeld te sien, het my werklik ver laat terugdink ook aan die rol wat was en stryk in elkeen van ons se lewens gespeel het.” Langner het die Ellisse ook geloof vir die besonderse manier waarop hulle hul oorlede dogter Janine se nagedagtenis deur middel van die museum gedenk.
“Ek het al in baie gemeenskappe in Suid-Afrika gekom en ek het nog nooit so iets gesien nie. Ek was heeltemal stomgeslaan.” Hy het hulle ook vir hul personeel se vriendelikheid en warmte gekomplimenteer.
Nadat Gerrie Pretorius van Leef Jou Reis-faam die museum op sy program gewys het, stroom die besoekers behoorlik daarheen.
Ontvangers van Inspirasie Vrou-toekennings: (agter van link) Heleen Coertze, Annemarie Dellemijn, Zandra Klapwijk, Lynn Honiball, dr Danie Langner (besturende direkteur - FAK), Petronel Baard, Amelia Thiart, Marilise Labuschagne, Cornelle Carstens, Joan Carstens, Gerrie Pretoris (Leef Jou Reis-faam), (voor van links) Elaine van der Walt, Genevieve Muller, Elizma Theron (FAK kultuurorganiseerder), Jeanette en Jan Ellis (Janine Stryk- en Wasmuseum), Denise Lloyd.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'