Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Kitty Herling was nog in die grondslagfase, toe weet sy al wat sy met haar lewe wil doen.
"Ek was in graad 3 toe sê ek vir my juffrou – 'ek wil 'n welfare' word. Dit is wat ons in daardie jare 'n maatskaplike werker genoem het."
Na 30 jaar in hierdie beroep, het sy nou afgetree. Hoewel, as jy na haar luister, is dit beslis net tydelik.
Dopstelsel
Sy is 'n plaaskind van Patatsfontein, 'n plaas in die Koo. Haar pa was 'n plaaswerker en sy het die gruwels van die dopstelsel daagliks as 'n jong kind beleef.
"Ek het destyds vir my juffrou gesê ek wil 'n welfare word, want ek wil kindertjies help wat swaarkry. Ons almal het swaargekry, maar my redding was dat nie my pa of my ma aan die dopstelsel deelgeneem het nie."
Christelike waardes was sentraal in haar ouerhuis.
Kitty se pa, was 'n plaasmens, maar omdat hy sy kinders 'n beter toekoms wou gee, trek hulle dorp toe. Sy slaag matriek in Robertson en kwalifiseer as maatskaplike werker op Worcester. Sy werk eers by 'n sentrum vir dowes.
In 1997 skuif sy na die Brandvlei-gevangenis, berug vir die gruwels wat die Nommerbendes pleeg. Haar pad kruis hier met een van Suid-Afrika se mees gevreesdes – Rashied Staggie. Sy het 'n paar sessies met Staggie deurgewerk toe sy by die maksimum sekuriteit-afdeling uitgehelp het.
Sy verduidelik dat die boosheid wat sinoniem met die Nommer is, alte dikwels goeie mense, verskriklike dinge laat doen.
Haar opsomming van Staggie?
"Ek het baie by hom geleer. Daar is niks van misdaad wat hy nie weet nie. Dit was vir my 'n absolute, absolute voorreg om met hom te kon werk. Ek wou weet hoe werk sy kop. 'n Mens hoor altyd van so 'n mens. Dan skielik sit hy voor jou. En voor jy weet, kom daardie instink wat jou laat luister na iemand se storie, onvoorwaardelik. Dis 'n voorreg om iemand te kan help om hierdie storie, te herskryf."
Nuwe lewe
In die jaar 2000, kom sy Mosselbaai toe. Sy het niemand in die Suid-Kaap geken nie en letterlik hier 'n nuwe lewe kom soek – iets wat sy inderdaad gekry het.
In 2002 word die korrektiewe sentrum ingerig vir alleenlik die jeug. Vir Kitty was die oorskakeling van volwasse kliënte na jeugdiges aanvanklik moeilik. Maar nou, by aftrede is haar antwoord op die vraag oor wat sy die meeste sal mis, soos volg: "My kinders, my stout kinders."
FOTOGALERY: Kitty Herling tree uit
Kitty meen dat die jeug waarmee sy gewerk het, die produkte van 'n hele generasie se tienerswangerskappe is.
Die verwerping wat hierdie jongmense van 'n vroeë ouderdom aan die hand van hulle moeders ervaar het, het 'n wesenlike impak op hoe hulle gevorm is.
Oor die jare het sy besef hoe die samelewing bygedra het tot die lot van jeugmisdadigers. Die groot verskil wat betref om met jeugdiges te werk teenoor volwassenes, is die groot rol wat gebroke verhoudings speel.
"Met volwassenes, is die ouers dikwels oorlede. By jongmense moet daar soveel herstel plaasvind."
Van haar grootste genoegdoening, put sy uit die herstel van hierdie komplekse gebroke verhoudings. Dít, en die slagoffer-misdadiger-dialoogproses.
"Hierdie is 'n slagoffergedrewe proses. Slagoffers kry die geleentheid om met die misdadiger te praat. Hulle kan vrae vra en die legkaart oor wat gebeur het, uitpak."
Sy noem dat misdadigers dikwels aan hierdie dialoog deelneem in 'n versugting na vergifnis, wat selde 'n gewaarborgde uitkoms is.
Tweede kanse
Dit is 'n welbekende feit, dat jeug-misdadigers dikwels terugkeer tronk toe.
"Ons samelewing is nie ontvanklik vir mense wat misluk of foute maak nie. Daar word ook nie sommer tweede kanse gegee nie." Sy vertel van jonges wat blom in die tronk omdat daar struktuur, liefde, aanvaarding en self iets so basies soos 'n maaltyd is.
Kitty meen dat die samelewing sal moet kyk na innoverende strukture waarin voorheen veroordeeldes selfversorgend sal kan wees. Dít, veral in die lig daarvan dat families bloot nie kans sien om hulle eie terug te ontvang na ontslag uit die tronk nie.
"Ons kry dit meer en meer. Dis 'n nuwe tendens."
Haar uniform en die lede se onderlinge grappies, gaan sy ook baie mis.
"Daar is nie 'n dag wat verbygegaan het sonder dat ek gelag het nie."
Sy het drie afskeidsfunkies gehad en haarself telkens byna doodgehuil.
Sy glo sy kan nog baie waarde toevoeg binne haar veld van kundigheid.
Daarom beoog sy om steeds by die sentrum betrokke te bly, sou die geleentheid hom voordoen.
Verder is skryf en die aanbied van motiveringspraatjies nie uitgesluit nie.
"Ek retire nie, ek refire," lag sy.
Kitty Herling sê sy gaan haar uniform mis. "Ek was baie trots op my uniform." Hier het sy dit vir die laaste keer aan.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'