'n Plan moes op die tafel gesit word om die omkeerstrategie in werking te stel. Om in hierdie doel te slaag is 'n besparingsloodskomitee gestig waar raadslede en amptenare hul voorstelle kan indien om te help om die munisipaliteit se finansies te red. Pryse sal ook toegeken word aan van die voorstellers en daarom staan die projek bekend as die Wen met Besparingsprojek.
Die besparingsloodskomitee bestaan uit die munisipaliteit se onderburgemeester, Lionel Esau en amptenare Clive Africa, Xavier Jantjies, Shaun Stanley, Marillia Veldkornet, Tebello Mpuru, Marlon Saayman, Verna Hofsta, Nadia Boumeester, Nomakhwezi Dlengezele, Rochelle Louw, Mario Appels, Gerhard Otto, Vernon Gibbs, Fathima Hassain en Chrystal Spies.
Tydens verlede Vrydag se bekendstelling van die projek het die munisipale bestuurder, Godfrey Louw gesê dit is 'n historiese oomblik in die munisipaliteit se geskiedenis. "Ons moet die projek reg afskop anders gaan ons nie slaag nie." Hy het aangevoer dat almal behoort te weet alle munisipaliteite staar finansiële uitdagings in die gesig en net 'n gesonde omkeerstrategie kan dit red.
Die Eden-distriksraad se uitvoerende burgemeester, Wessie van der Westhuizen het die bekendstelling van die projek as 'n fantastiese dag in sy lewe beskryf. "Ons wil nie hê mense moet hul werk verloor as gevolg van finansiële uitdagings nie. Kom ons staan saam en beweeg vorentoe."
Onderburgemeester Lionel Esau het gesê dat die projek deur die hele Eden-distrik gevoer sal word en dat alle C-munisipaliteite binne die distrik daarby betrokke moet raak. Almal wat hul verbind tot die projek moet 'n plakkaat onderteken waarop hul bevestig dat hulle deel daarvan is.
* The Eden District Municipality launched a savings competition, whereby councillors and officials can come to the table with proposals on how to change the municipality's financial state. The project will be named a 'savings competition' because there are prizes to be awarded for the best proposals.

Die onderneming met talle handtekeninge reeds daarop.
ARTIKEL EN FOTO'S: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS