Update
TUINROETE NUUS - Die 18-jarige Adrian Myburg moes in die vroeë oggendure amper 10km ver stap om hulp te kry nadat hy en sy drie matriekklasmaats, Stiaan Grobler, Conrad Meiring en JG Greyling (almal 18) uit die Lexus waarin hulle gery het, geslinger is.
Dié vier inwoners van Groblersdal was op hulle matriekvakansie by die Meirings se vakansiehuis op Reebok, toe hul motor Vrydagaand, 3 Desember die N2 naby die Maalgatebrug tussen Groot-Brakrivier en George verlaat het.
Stiaan, Conrad en JG is op die toneel dood. 'n Uiters getraumatiseerde en beseerde Adrian het opgestaan en in die rigting van George begin stap, op soek na hulp. Dit is nie tans duidelik of Adrian ook iemand om hulp gebel het nie.
Weens die aandklokreël was daar nie voertuie op die pad nie. 'n Polisievoertuig wat patrollie gery het, het Adrian gesien en hom opgelaai waarna nooddienste na die grusame ongelukstoneel ontbied is. 'n Beseerde Adrian is in 'n hospitaal op George vir sy beserings opgeneem en is later ontslaan.
Ongelukstoneel
Conrad Meiring se oom en tannie, Carl en Anina Meiring woon die afgelope agt jaar op Klein-Brakrivier. Conrad se pa, Uys Meiring het sy broer Carl Saterdagoggend op 4 Desember om ongeveer 03:00 met die tyding van die ongeluk gebel. Carl en sy gesin was baie geheg aan Conrad en hy het hom na die toneel op die N2 gehaas. Carl was een van die eerste mense op die toneel.
Die omstandighede van die ongeluk word nog ondersoek. Volgens die familie het die seuns in die rigting van George gery.
Carl sê hulle vermoed die bestuurder het die afrit na Groot-Brakrivier gemis en toe reguit op die snelweg aangery.
Die familie vermoed die ongeluk het voor middernag plaasgevind. Daar is tans nog nie duidelikheid oor wie die voertuig bestuur het nie. Die Lexus is die Meiring-familie se voertuig wat by die vakansiehuis op Reebok in die motorhuis staan sodat daar altyd 'n ryding vir familie wat vakansie hou beskikbaar is. Die vier vriende het reeds op Donderdag, 2 Desember op Reebok met 'n ander voertuig by hulle vakansiebestemming aangekom.
Die wrak van die Lexus waarin die vier seuns gery het.
Kruise is op die N2 naby die Maalgate-brug vir die drie oorledenes opgerig.
In rou gedompel
Die families van die vier seuns is in rou gedompel. Carl sê die Meirings is 'n hegte familie.
"Van die baie praters en baie laggers was Conrad die stil een. Hy het 'n skaam glimlag, maar altyd 'n vonkel in sy oog gehad. Desembermaande het ons almal hier op Klein Brak bymekaargekom. Die manne het visgevang en die vroue het gekook."
Uys en Conrad het gereeld saam visgevang en die twee is deur die res van die familie as groot vissermanne beskou. Carl sê Oukersaand is elke jaar geskenketyd en Kersdag was nog altyd vir die familie 'n dag van samesyn.
"Conrad was mal oor wortelslaai. Ons gunsteling herinnering aan hom is, toe hy een Kersfees tot ons almal se verbasing, omtrent net dit geëet het." Hy sê Desembermaande was nog altyd hulle geliefkoosde maand want "dan kan ons al ons geliefdes om ons hê".
Die familie het Desembers so lekker saam op Klein Brak gekuier dat Uys 'n vakansiehuis op Reebok gebou het. Adrian en Conrad was baie geheg aan mekaar.
"Ons eie seuns, Carl (junior) en Ruben kry baie swaar. Hulle was baie lief vir Conrad. Woorde kan nie die pyn beskryf wat tans deel van ons familie is nie. Conrad se ouma, ouma Lida, sê sy en Conrad het nie woorde nodig gehad om te kommunikeer nie, hulle kon met hulle oë praat. Ook sy kry baie swaar. Ons familie is gebroke met smart," sê Carl.
Die polisie op Groot-Brakrivier ondersoek 'n saak van strafbare manslag.
'n Kranslegging is op 7 Desember by die seuns se skool, Hoërskool Ben Viljoen in Limpopo vir die drie oorledenes gehou.
Conrad se nefie, Carl Meiring, Conrad (middel) en sy oom Hannes Meiring. Carl se pa, ook Carl, was een van die eerste mense op die ongelukstoneel.
Uys Meiring en sy seun Conrad was lief vir die see en het Desembers gereeld visgevang.
Conrad se pa, Uys Meiring en sy oom, Carl Meiring.
Die Meirings is 'n hegte familie en het Desembers saam vakansie gehou. Hier is Ruben Meiring (neef), Carli Meiring (Conrad se sussie), ouma Alida Meiring, Carl Meiring (neef) en Conrad.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'