MOSSELBAAI NUUS - Jy kan jou deel doen vir die plaaslike gemeenskap deur jou hartsbydrae te maak tot die Oliver Twist-gemeenskapsprojek.
Eie aan die storie van die jong weeskind, Oliver Twist en sy pogings om goed te bly in 'n gemeenskap wat weier om te help, kry jy ook nou die geleentheid om jou bydrae te maak, saam met die Mossel Bay Advertiser se Oliver Twist-gemeenskapsprojek in samewerking met ReedValley.
Die Oliver Twist-gemeenskapsprojek het, onder andere, vanjaar ten doel om genoegsame fondse in te samel om 'n lewensreddingsstoel te bekom om sodoende die Mosselbaai-lewensreddingsklub by te staan met hul vrywillige gemeenskapsdiens aan ons plaaslike inwoners, besoekers en vakansiegangers.
Hierdie spesiaal-ontwerpte stoel kos, na beraming, sowat R100 000 en moet volgens spesifikasie gebou word. Mosselbaai Lewensreddingsklub vorm deel van die Tuinroete en Eden-lewensreddingsklub en het ten doel om die breë gemeenskap te bedien op al die strande en swemgebiede in en om die Suid-Kaap.
ReedValley se jaarlikse welwillendheidsgebeurtenis, 'n winterbal in die vorm van 'n feesmaaltyd en dans, word op 3 Augustus aangebied deur ReedValley. ReedValley se bydrae is ongelooflik en 100% van die kaartjieverkope van vanjaar se gebeurlikheid word aan die Oliver Twist-gemeenskapsprojek geskenk, vir die doel om die lewensreddingsstoel aan te koop.
Vir hierdie doel, kan jy en jou vriende vir een aand, gesellig verkeer, verlore tyd inhaal met 'n lekker kuier, kaartjies koop teen R300 per persoon vir hierdie spoggeleentheid en so jou bydrae maak tot jou gemeenskap. Jy gaan gegroet word met 'n verwelkomingsdrankie, 'n heerlike driegangmaaltyd geniet, voortreflike vermaak ervaar en bring genoeg ekstra fondse saam om aan die veiling deel te neem. Alle veilingsgelde word ook aan die projek geskenk.
Vanjaar sal die groep, Lonesome Rangers die vermaakprogram hanteer en gaste op die dansvloer hou. Daar word fluks gevorder met die insameling van gehalte items wat tydens die bal opgeveil sal word, vir ekstra fondsinsameling vir die projek.
Lede van die publiek wat graag op hierdie wyse 'n bydrae kan maak deur items vir die veiling te skenk, is meer as welkom en kan vir Shirley Coetzee skakel (084 557 1126). Om kaartjies te bekom, besoek www.reedvalley.com of skakel 044 698 1022.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'