MOSSELBAAI NUUS - Die Hartenbos-dienssentrum vir ouer persone het die jaar afgeskop met 'n interessante program wat uitgeloop het op 'n vrugtefees.
Die doel van die sentrum is om ouer persone wat steeds in die gemeenskap woonagtig is te betrek om deel te wees van aktiwiteite.
Mense wat in die gemeenskap woon het dikwels stewige programme, maar ten spyte daarvan is vereensaming 'n werklikheid.
Daar word baie gewonder oor lewende testament, hoe laat ek my kinders en naasbestaandes weet van my wense en ook wat doen ek as ek alleen bly.
Hierdie vrae is alles beantwoord op die dienssentrum se eerste byeenkoms. Die byeenkoms is bygewoon deur 45 lede en dit was 'n heerlike gesellige oggend. Annete Ferreira, voorsitter van die ledekomitee, het die vergadering geopen en almal welkom geheet. Johan Jacobs, die bestuurder van die Hartenbos-versorgingsoord, het met skriflesing en gebed geopen.
Ouerwordende persone het die behoefte om gestimuleer te word en betrokke te wees en hulle brein te rek vir nuwe ervaringe. Hierdie het gebeur toe Barend Jordaan van Cornerstone Adventures hulle uitgedaag het om 'n baie interessante legkaart te bou. Dit was baie opwindend en die deelnemers is luidkeels aangemoedig om alle taktieke te probeer om die probleem op te los.
Jan Lubbe van Eden Begrafnisdienste het met die lede gepraat oor die lewende testament en die lede het tyd gehad om vrae te vra. Baie waardevolle inligting is gedeel en kennis is opgedoen.
Die byeenkoms is afgesluit met lekker kuier en 'n vrugtefees.
Hartenbos-dienssentrum lewer die volgende aan hul lede:
Etes: aansit- en wegneemetes is daagliks beskikbaar. Uitry-etes is Maandae tot Vrydae beskikbaar.
Haarsalon: Dinsdae tot Vrydae.
Voetekliniek: Maandae.
Lyndans: Donderdae
Gesellige saamverkeer: Vrydae - sakkie-sakkie.
Uitstappies een maal per maand.
Belangstellendes word genooi om aan te sluit. Skakel 044 695 2386.
Diensentrumlede is ingelig oor die lewende testament.
Lyndans is ook een van die aktiwiteite wat Hartenbos-dienssentrum bied.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'