HEIDERAND NUUS - Elke hond kry sy dag, en dié een kry sommer 'n hoed ook.
Die hond met die hoed wat daagliks op die hoek van Melkhoutstraat oorkant die Heiderand Mall te siene is, se naam is Rocy.
Die reun en sy eienaar, Elton September, staan elke dag op dieselfde plek en is al 'n bekende gesig in die omgewing. Elton het vir Rocy drie jaar gelede gekry toe Rocy se eienaar nie meer vir hom kon sorg nie.
"Hulle het gesê hulle kan hom nie meer hou nie en ek het op daardie oomblik daar verby gestap en vir Rocy 'n stukkie vleis gegee."
Man en hond het vinnig 'n band gesmee en is sedert daardie dag onafskeidbaar.
Elton is tans werkloos en staan daagliks op die hoek in die hoop om 'n los werk vir die dag te kry. Rocy, wat in 'n puik kondisie en boonop vriendelik ook is, hou hom geselskap.
"Mense in die gemeenskap help my om Rocy te voer en bring vir hom hondekos," vertel Elton.
Hy sê hy en Rocy swerf saam in die gebied, maar nie sonder dat hulle altwee 'n hoed dra nie. "Dit help teen die skerp son."
Elton September en sy hond, Rocy. Foto: Louise Karsten
Rocy dra elke dag 'n hoed. Hieroor sê Elton: "Ek het net gewonder hoekom 'n hond nie ook 'n hoed kan dra nie en toe pas ek eendag vir Rocy een aan. Dit het 'n rukkie geneem vir Rocy om aan die hoed gewoond te raak maar nou dra hy dit elke dag."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’