Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Plaaslike inwoner van Danabaai wat 'n groot passie vir bye het, praat oor die hardwerkende insek met die Mossel Bay Advertiser na aanleiding van 'n vorige berig waar bye op 'n grasperk voorgekom het. Callie Rautenbach is 'n byeboer en swerm-verwyderaar en verkoop ook rou heuning.
Michelle Reyneke wat aanvanklik die foto's aan die Advertiser gestuur het, het beklemtoon dat voor die blommetjies op die gras was, was daar reeds bye bedrywig op die gras.
Volgens Callie het Kikoejoe-gras (Pennisetum clandestinum) blommetjies wat onsigbaar is en sal bye op die grasperk werk en so die gras bestuif. So versprei hulle ook die gras in 'n mate. Callie sê egter dat die blommetjies gewoonlik deur tuindienste van een grasperk na 'n ander oorgedra word as die grassnyers nie na 'n sny gewas word nie.
Dis algemeen bekend dat hierdie klein werkertjies 'n baie groot invloed op die mens se bestaan het en 'n mens maar twee keer moet dink voordat 'n by seer- of doodgemaak word. Bye is noodsaaklik vir die voortbestaan van die mensdom. Bye bestuif plante en sonder bye sal daar nie vrugte of blomme wees nie. Verskeie groentes met blomme word ook deur bye bestuif.
Met twee jaar ondervinding in die bedryf met verskeie kongresse wat hy reeds bygewoon het, sê Rautenbach dat die bye-bedryf nie maklik is in ag geneem dat bye aan die uitsterf is as gevolg van verskeie faktore. Daar is twee tipes bye in Suid-Afrika. Die heuningby of Afrika-by (Apis mellifera scutellata) en die Kaapse by (Apis mellifera capensis). Die Kaapse-by verdring en wis egter die harder-werkende Afrika-bye uit deur hul eiers naby die Afrika-bye se koningin te lê.
Die Amerikaanse Foulbrood en Europese Foulbrood bakterieë is van die siektes wat die getalle ook aansienlik kan verminder.
Daar is dan ook verskeie insekte soos wasmotte en selfs kakkerlakke wat 'n nadelige invloed op die bye se bestaan kan hé.
"Bye het 'n kort leeftyd van sowat 63 dae waarvan die eerste 21 dae in die korf deurgebring word. Daarna gaan werk hulle hulself letterlik dood," sê Rautenbach. "Hulle kan tot 6km ver vlieg op soek na geskikte plante."
Die publiek word gevra om nie bye dood te maak nie en is welkom om Rautenbach te kontak om meer te leer oor bye en sodat die byeswerm eerder elders hervestig kan word. (074 827 6529).
Verwante artikel: Bye op grasperk
'n Voorbeeld van 'n wasmot wat gate in die heuningkoek vreet. Groot swerms bye sal egter die pes uitroei deur die wasmotte dood te steek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'