MOSSELBAAI NUUS - Die sewejarige Devan Williams van Laerskool Hartenbos wat op Woensdag, 12 Junie in Louis Fourieweg by Hartenbos deur 'n voertuig raakgery is, het die afgelope week vir sy maatjies by die skool gaan kuier.
Devan was ook weer vir die eerste keer by sy ouerhuis op Sonskynvallei sedert die voorval. Devan is sedertdien vir ernstige kopbeserings in die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad behandel. Sy ma, Evelyn Williams is deurgaans by hom.
Hulle het weer op Woensdag, 21 Augustus na die hospitaal vertrek waar Devan steeds rehabilitasie ontvang.
Devan het op die dag van die ongeluk in die rigting van Sonskynvallei gestap toe 'n Huyndai H100-trokkie wat in die rigting van Oudtshoorn na Hartenbos onderweg was, hom getref het.
Volgens die Da Gamaskop-polisie het Devan aan die linkerkant van die pad gestap en na bewering voor die voertuig ingehardloop. Die polisie ondersoek steeds die voorval.
Skoolhoof, Werner van Huyssteen sê hy is oortuig dat wonderwerke steeds gebeur. "Die outjie lyk goed en sy maatjies kon bietjie met hom gesels. Hy het egter vinnig moeg geword." Evelyn sê hoewel dit 'n lang pad van herstel is, gaan dit al baie beter met Devan. "Dit was baie lekker vir hom om weer vir 'n slag by die huis en by ons familie te wees."
Lees vorige artikels hier:
- Seun praat nog nie
- Seun se toestand stabiel na ongeluk
- Seun wat raakgery is in koma gehou
- Sewejarige na skool raakgery
- 7-jarige na skool raakgery
Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'