Update
MOSSELBAAI NUUS - Dit gaan "goed" met Devan Williams (7) wat op Woensdag, 12 Junie in Louis Fourieweg by Hartenbos deur 'n voertuig raakgery is terwyl hy vanaf Laerskool Hartenbos na sy huis in Sonskynvallei gestap het, maar Devan praat nie. Só sê Devan se ma, Evelyn Williams (40).
Devan is steeds in die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad en kon nie soos die res van sy maats die nuwe skoolkwartaal die afgelope week hervat nie.
Hy is volgens sy ma in 'n stabiele toestand.
Devan het op die betrokke dag in die rigting van Sonskynvallei gestap toe 'n Huyndai H100-trokkie wat in die rigting van Oudtshoorn na Hartenbos onderweg was, hom getref het.
Volgens die Da Gamaskop-polisie het Devan aan die linkerkant van die pad gestap en na bewering voor die voertuig ingehardloop. Devan het ernstige kopbeserings opgedoen en ook beserings aan sy been.
Hy is eers na die Mosselbaai provinsiale hospitaal geneem waarna hy na die George provinsiale hospitaal oorgeplaas is. Vandaar is hy na die Rooikruis-kinderhospitaal. Op Woensdag, 10 Julie het Evelyn aan die Mossel Bay Advertiser gesê Devan moet weer vir 'n skandering gaan wat verband hou met die beserings aan sy kop. Sy sê sy slaap by Devan in die saal waar hy behandel word. "Ek sit heeltyd by hom en hy maak geluide as ek met hom praat. Hy knip ook sy oë."
Evelyn kon nie uitbrei oor Devan se huidige mediese toestand nie.
"Die dokters sê nie alles vir my nie." Sy sê al wat vir haar belangrik is, is om by Devan te wees.
"Ek sit by hom en soms stap ek bietjie na buite. Die skool betaal ook vir my geld in sodat ek kos kan koop terwyl ons hier is." Evelyn sê sy weet nie wanneer hulle gaan huis toe kom nie. "Maar ek hoop hy begin binnekort praat."
Skoolhoof stuur brief aan ouers
Laerskool Hartenbos skoolhoof, Werner van Huyssteen het op 9 Julie 'n brief aan die skool se ouers geskryf oor Devan se situasie. "Devan is tans in die Rooikruis-kinderhospitaal waar hy 'n aantal skanderings ondergaan. Daarna is die plan dat hy teruggeplaas word na Grootte Schuur-hospitaal waar daar met arbeidsterapie begin sal word. Tans kommunikeer Devan deur sy ma se hand te druk.
Hy haal egter self asem en is buite gevaar. Die herstelpad gaan egter lank wees en ons, as skoolgemeenskap, sal hulle as gesin moet aanhou ondersteun. As u dus 'n verdere bydrae wil maak, kan u steeds 'n betaling in die skool se rekening maak met verwysing: Devan Williams Fonds."
Beheerliggaam vergader
Van Huyssteen sê die skool se beheerliggaam sal eersdaags weer vergader om die pad vorentoe te bepaal met betrekking tot leerders wat te voet tussen die skool en Sonskynvallei beweeg.
"Dit is belangrik om daarop te let dat verskeie skrywes al in die verlede aan die owerhede gerig is en dat daar spesifiek in 2016 verwys is na hierdie probleem as ''n tikkende tydbom'.
Die Wes-Kaapse onderwysdepartement verskaf egter net vervoer aan leerders vanaf en na die skool as dit verder as 5km geleë is. Tans maak ons ouers van Sonskynvallei van private vervoer vir hul kinders gebruik, dus hoef geen leerder te stap nie."
- Die woordvoerder van die Rooikruis-kinderhospitaal, Dwayne Evans het slegs bevestig dat Devan behandeling ontvang, maar wou nie oor sy mediese toestand uitbrei nie.
Lees vorige artikels hier:
- Seun se toestand stabiel na ongeluk
- Seun wat raakgery is in koma gehou
- Sewejarige na skool raakgery
- 7-jarige na skool raakgery
Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'