Update
MOSSELBAAI NUUS - Die Da Gamaskop-polisie ondersoek voorlopig 'n saak van roekelose en nalatige bestuur, nadat 'n leeder van Laerskool Hartenbos Woensdag, 12 Junie omstreeks 14:00 raakgery is. Die seun, Devan Williams was te voet op pad in die rigting van Sonskynvallei op Louis Fourieweg toe 'n Hyundai H100-trokkie, onderweg in die rigting van Oudtshoorn na Hartenbos die kind getref het.
Volgens inligting verskaf deur die Da Gamaskop-polisie het die seun aan die linkerkant van die pad geloop en na bewering voor die voertuig ingehardloop.
Die kind het ernstige beserings opgedoen en is aanvanklik per ambulans na die Mosselbaai provinsiale hospitaal vervoer, waarna hy oorgeplaas is na George provinsiale hospitaal.
'n Woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, Nadia Ferreira, het bevestig dat die seun in kritieke toestand is en in die hoësorgeenheid in die George provinsiale hospitaal behandel is.
Sy moeder, Evelyn Williams was op die toneel kort na die ongeluk. "'n Blanke ma het my soontoe geneem," het sy gisteroggend by navraag aan die Mossel Bay Advertiser gesê. Sy bly al 14 jaar lank in Sonskynvallei. Ten tye van die telefoniese gesprek gister, is voorbereidings getref om Devan vanaf George per helikopter na die Rooikruis-kinderhospitaal oor te plaas.
Volgens sy moeder, is Devan se regterbeen gebreek en benodig hy chirurgie aan sy kakebeen. Hy het ook 'n hoofbesering opgedoen. "Hulle sê nie vir my alles nie," het 'n emosionele Evelyn gesê. "Devan is my jongste."
Skool reageer
Die Mossel Bay Advertiser het herhaaldelik in die verlede berig oor die kommerwekkende omstandighede waaronder leerders aan Hartenbos Laerskool wat in Sonskynvallei woon, skool toe moet stap langs die besige R328 waarop groot voertuie en afleweringswaens volop is. Die skoolhoof, Werner van Huyssteen sê hy was by die hospitaal saam met Devan en wil die familie graag help. "Ons is baie jammer oor wat gebeur het. Ons het 'n fonds gestig om die gesin finansieël by te staan. Ons sal ook in die toekoms daar wees om hulle te ondersteun. Die mamma moet saam Groote Schuur toe gaan en hulle het net soveel hulpbronne om te help. Die staat se maatskaplike werker het na die skool gekom om met die kinders en die onderwyser te gesels."
'n Rekening is vir Devan geskep: Standard Bank, verwysing: Devan Williams hulp, rekeningnommer: 251 946 452. Van Huyssteen sê enigeen is welkom om 'n donasie te maak.
Lees 'n vorige artikel hier: 7-jarige na skool raakgery
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'