MOSSELBAAI NUUS - Om te skryf, was nog altyd deel van wat Erika Dykes doen - "om 'n boek te skryf, is egter 'n perd van 'n ander kleur," sê sy.
In 2021, dieselfde jaar toe sy opnames ontdek het waarop haar boek gebaseer is, het Dykes afgetree en Centurion maklik vir Mosselbaai verruil.
Die boek, Die waarheid lê in niemandsland, is historiese fiksie oor die Anglo-Boereoorlog.
Dit is gegrond op ware vertellings van Malie Grobler (Dykes se oumagrootjie) wat in 1952 op haar verjaarsdag - vyftig jaar na die sluiting van die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 - op oudioband opgeneem is.
Dykes is 'n voormalige verslaggewer en ook vryskut-omroeper. 'n Mikrofoon, sê sy, sal haar altyd bekoor. Verder was sy ook in haar loopbaan betrokke by kommunikasie- en bemarkingseenhede van die SAPD, die Government Communication and Information Service (GCIS), en SARS.
Sy vertel Mossel Bay Advertiser bietjie meer oor haar boek, en ook hoe sy tot by die punt van skryf gekom het.
Hoe lyk jou dag-tot-dag?
Eerste ding soggens, is om te kyk hoe die weer lyk. Dan is dit dapper-en-stapper vir 'n paar kilometer. My studeerkamer is heerlik sonnig en is my toevlugsoord waar ek navorsing doen en skryf. Soms tot na die son gaan slaap het. Tussen-in is daar tyd vir kuier, sleurwerk en my ander liefde, fotografie.
Wanneer het jy, na jy die opnames in 2021 gekry het, met die skryf van die boek begin en wanneer is hy uiteindelik voltooi?
Ek moes die opnames letterlik ontsyfer want die oorspronklike klankgehalte was swak en op plekke onhoorbaar. Hoe meer ek daarna geluister het, hoe nuuskieriger het ek geword.
Ek moes uitvind wie die mense is van wie my oumagrootjie praat en waar die gebeurtenisse afgespeel het. Die muse het midde in die proses opgedaag en ek het outomaties begin skryf.
Die boek is in April vanjaar gedruk en uitgegee deur Ns. Skrywershuis.
Het jy self jou oumagrootjie geken? Wat was jou aanvanklike reaksie toe jy die opnames ontdek? Het jy dadelik geweet jy wil dit as materiaal vir jou boek gebruik?
Ek het my oumagrootjie, Maria Magdalena Johanna de Waal (nèe Grober), geken en ek onthou nog van die stories wat sy self vir ons vertel het. Toe ek die opnames ontdek, was dit asof sy by my sit en spookstories vertel met haar kenmerkende vonkel in die oog.
Aan 'n boek het ek toe nie gedink nie, ek het nog te veel onbeantwoorde vrae gehad.
Vertel ons meer van die navorsing wat jy gedoen het.
Terwyl ek geskryf het, het ek dinge geïdentifiseer waarvan ek meer moes weet en het dan daardie onderwerpe getakel.
In die opname noem Malie nooit presies waar hulle gewoon het nie, ook nie die naam van die veldslag waarvan sy praat nie. Die enigste gegewe is die name van die konsentrasiekampe by Irene en Howick.
My deurbraak was met luitenant-kolonel Lloyd. In haar vertelling praat Malie van 'n Britse offisier wat 'n buitengewoon harde stem het.
Terwyl ek deur die hoeveelste boek oor die oorlog blaai, vang my oog die woorde "loud voice". So kon ek die veldslag identifiseer as die Slag van Rhenosterkop, naby Bronkhorstspruit.
Die offisier oor wie Malie 'n vloek uitgespreek het, was einste Lloyd. Historikus, Robin Smith, het sy omvattende artikel en kaarte oor die Slag van Rhenosterkop met my gedeel en die storie het begin lewe kry.
Malie noem heelwat vanne van mense in hulle omgewing. Met behulp van 'n kaart van 1903-1905 en 'n lys van plase van 1900 met die name van hul geregistreerde eienaars, kon ek met redelike sekerheid uitpluis waar Malie-hulle gewoon het.
Dié inligting is geverifieer teenoor gegewens op die Universiteit van Kaapstad se elektroniese databasis van die Britse konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog.
Wat is volgende ná Die waarheid lê in niemandsland?
Die oomblik toe ek my eie boek in my hande hou, het ek geweet, dit is die begin van my volgende boek. Ek werk aan 'n storie oor 'n skipbreukeling – hoe anders, ek bly mos by die see.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’