Update
MOSSELBAAI NUUS - Die alternatiewe toegangspad vir Danabaai is tydens die afgelope maandelikse raadsvergadering op Donderdag, 29 Augustus deur die raad goedgekeur.
Die raad het kennis geneem van die behoefte vir 'n tweede toegangsroete en het goedgekeur dat die munisipaliteit voortgaan met die voorafbeplanningsfase vir die voorkeurroete.
Die raad het ook kennis geneem van die finansiële implikasie van die twee opsies wat aan Danabaai-huiseienaars tydens 'n aanlynpeiling voorgehou is en waarop oorweldigend vir die voorkeurroete, die verlenging van Floraweg tot by die Herbertsdale-aansluiting by die N2 gestem is.
Van die 1 648 huiseienaars wat aan die peiling deelgeneem het, het 1 264 ten gunste van hierdie pad gestem.
Vervolgens sal die munisipaliteit voortgaan met die nodige aanvoorwerk, onder meer om die nodige befondsing van sowat R11 miljoen te bekom.
Die nodige impakstudies, onderhandelinge met belangegroepe, onder meer ook met die eienaar van die privaatgrond wat in gedrag is, en die detailbeplanning sal nou onderneem kan word.
Die projekbeplanning sal gefinaliseer word om tydens die volgende begrotingsproses aan die raad voorgelê te word.
Lees vorige artikels:
- Peiling maak geskiedenis
- Dana Bay access route poll results
- Last day to participate in poll
- Danabaai meningspeiling verloop vlot
- There are two options for residents to choose from
- Historic poll for Dana Bay Route
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'