MOSSELBAAI NUUS - Om 08:00 op dag twee van van die Danabaai aanlynpeiling het 526 eienaars reeds hul stemme uitgebring. Eienaars van eiendomme in die groter Danabaai, Pinnacle Point, Fynbos Aftree-oorde, Mosselbaai Aftree en Leefstyloord en Paradise Coast word daaraan herinner dat die peiling aanlyn beskikbaar is op die munisipale webwerf by www.mosselbay.gov.za.
Die peiling sluit op Woensdagaand om 21:00.
Wie kan stem
Eienaars van eiendomme in die bogenoemde areas wat munisipale belasting betaal, kan hul munisipale diensterekeningnommer gebruik om aanlyntoegang tot die meningspeiling te kry.
Huurders word aangemoedig om met die eienaars te konsulteer oor ‘n voorkeurkeuse.
2 stemme
Elke diensterekeningnommer kwalifiseer vir twee aanlynstemme. Dit is om voorsiening te maak vir gevalle waar eiendomme in beide gades se name geregistreer is, of waar egpare elk oor vervoer beskik en dalk van mening oor die gepaste keuse verskil.
Kundige advies
Let op die beskikbaarheid van ‘n kundige munisipale beampte wat op Woensdagmiddag vanaf 16:00 tot en met die sluiting van die peiling om 21:00 by die gemeenskapsaal in A. Distansstraat beskikbaar sal wees om navrae te hanteer.
Vanaf 07:00 op Woensdag sal beamptes ook met rekenaars by die gemeenskapsaal beskikbaar wees om inwoners behulpsaam te wees om aanlyn te stem. Dit is veral gerieflik vir diegene wat nie oor rekenaars beskik of nie rekenaarvaardig is om in die gerief en privaatheid van hul eie woning die peiling te voltooi nie.
Indien van hierdie diens gebruik gemaak wil word, word versoek dat diensterekeninge saamgebring word sodat die peiling soomloos kan verloop.
Lees 'n verwante artikel hier: Historic poll for Dana Bay route
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'