MOSSELBAAI NUUS - Anika Smit se ma, Charlotte Eksteen (59) was heeltyd nog in Mosselbaai en het slegs haar foonnommer verander, maar was nie vermis soos wat vroeër deur die dagblad Beeld berig is nie.
Berigte dat Charlotte vermis is, het gekom nadat haar regsverteenwoordiger, Arno Olckers tydens die geregtelike ondersoek na haar dogter Anika se dood in die hof in Pretoria 'n beroep op die media gedoen het om Charlotte op te spoor.
Die 17-jarige Anika is in 2010 verkrag en vermink in haar pa se huis in Theresa Park, Pretoria.
Polisie sê op die dag van Anika se moord, het sy by die huis gebly weens 'n oorinfeksie. Sy is verkrag, keel afgesny en haar hande, wat afgesny is, is nooit gevind nie.
"My suster het my gebel en gesê sy hoor ek is vermis. My ou selfoonnommer werk nie meer nadat die SIM-kaart gebreek het nie." Charlotte het intussen 'n nuwe nommer gekry en nie geweet wanneer die hofsaak weer hervat nie. Sy was egter al die tyd in Mosselbaai.
Charlotte is 'n belanghebbende in die geregtelike doodsondersoek. Dit volg nadat André van Wyk (25) hom in 2016 oorgegee het in verband met die moord en verkragting van Anika. Die aanklagte is egter teen Van Wyk teruggetrek omdat DNS wat op die toneel gevind is nie met sy DNS verbind kon word nie.
Die geregtelike doodsondersoek na Anika se dood duur voort.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'