MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit het ag geslaan op openbare mening dat die verkeersaansluiting by Louis Fourie- en Casinoweg, veral na-ure, gevaarlik is. Soos in die geval vroeër vanjaar by die Floraweg-aansluiting by Louis Fourieweg, is stappe onlangs geneem om ook dié kruising te beveilig.
"Die munisipaliteit het sensorlusse by die aansluitings van Louis Fourie- en Casinoweg so geïnstalleer dat die verkeersligte betyds kan oorskakel wanneer verkeer op Casinoweg dit nader. Dit sal na-ure, tussen 19:00 en 05:00, van krag wees. Motoriste wat die spoedgrens handhaaf behoort dus nie meer 'n rooi verkeerslig aan te tref wat hulle sal noodsaak om by die kruising te stop nie," berig die direkteur van gemeenskapsdienste, mev Elize Nel.
Hierbenewens is die stormwatersloot opgeruim en, tot waar prakties moontlik, is die gras op die rante baie kort gesny.
Die gebruik van sensorkameras wat beweging sou optel en dus die verkeersligte sou laat oorskakel, is wel oorweeg maar kon weens die koste daaraan verbonde nie geïmplementeer word nie.
Aktiveertyd
Die sensorlusse het 'n aktiveertyd van ongeveer vyf sekondes nadat 'n voertuig dit geaktiveer het. Dit is gestel om teen 'n snelheid van 60km/h met veiligheid die verkeerskruising met 'n groen lig in te gaan. Sou 'n voertuig teen 'n hoër snelheid die sensorlus aktiveer, mag dit steeds 'n rooi verkeerslig aantref met aankoms by die kruising.
Met geen verkeersvloei in Louis Fourieweg, neem dit ongeveer drie sekondes vir die verkeerslig om van siklus te verander nadat die voertuig die sensor geaktiveer het, wat genoegsame tyd behoort te bied om die aansluiting veilig te kruis.
Motoriste word steeds gemaan om die verkeerskruisings op Louis Fourieweg omsigtig te benader, hoewel geen voorvalle in die jongste verlede daar aangemeld is nie.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'