MOSSELBAAI NUUS - Moenie skrik wanneer verskeie nooddiensvoertuie Sondag by die Punt opgemerk word nie.
Al die onderskeie nooddienste ondersteun die Onderdorp-buurtwag wanneer hulle vanaf 12:00 tot 17:00 'n bewusmakingsbyeenkoms by die Punt hou.
"Die rol van buurtwagte in gemeenskappe word al hoe belangriker en Mosselbaaiers word genooi om op Sondag, 31 Maart die kans te gebruik om eerstehands met die bestuur en buurtwaglede van die Onderdorp-buurtwag te kom gesels oor hoe hulle by die groep betrokke kan raak," nooi die voorsitter, Martie Loubser.
Verskeie interessanthede sal opgedis word en die byeenkoms word ondersteun deur onder meer die SA Polisie, By Grace-ambulansdiens, die NSRI, Mosselbaai munisipale verkeer en wetstoepassing, die Mosselbaai brand- en rampbestuursdiens en deelnemende vennote.
Die Onderdorp-buurtwag is ten volle geakkrediteer deur die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsveiligheid. Buurtwagte werk tipies in noue samewerking met die polisie en vorm 'n belangrike skakel tussen wetstoepassers en die gemeenskap. Buurtwagte is een van die doeltreffendste maniere vir wyk om misdaad in hul area te verminder en te help met die beskerming van eiendom en lewens.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'