Update
MOSSELBAAI NUUS - Buisplaas ouers en belangegroepe is al geruime tyd aan die baklei met die Wes-Kaapse Onderwys Departement (WKOD) vir daaglikse busvervoer van 22km vir hul kinders van Buisplaas na Laerskool Herbertsdale.
Die WKOD bied wel 'n busdiens op Maandagoggende en weer terug op Vrydagmiddae, wat beteken dat die kinders in die week in die koshuis by die skool moet bly.
Die ouers was nie daarvoor te vinde nie. Beweerde seksuele wanpraktyke, wat reeds oor jare tussen jong seuns by die koshuis plaasvind, is die grootste oorwegende faktor vir die ouers se teenkanting.
Die Buisplaas gemeenskap, met die hulp van Equal Education het teen die besluit van die departementshoof, Brent Walters, om nie daaglikse busvervoer toe te laat nie, geappeelleer.
Die besluit is op Woensdag, 10 Mei, ter syde gestel en teruggestuur na die departementshoof se kantoor om binne 30 kalenderdae 'n nuwe besluit te neem.
Volgens die regsverteenwoordiger van Equal Education, Chandre Stuurman, moet die nuwe besluit wat op 9 Junie gegee word, ten minste die redes identifiseer en ondersoek word hoekom die skool en die Eden Onderwysdistrik nie die kinders se aansoek vir daaglikse vervoer, ondersteun nie.
Verder moet die aantygings van teistering by die skoolkoshuis ondersoek en die uitkoms van dié ondersoek moet in die departementshoof se besluit weerspieël word.
Die status van elke individuele leerder, wat vir daaglikse busvervoer aansoek doen, moet teen die kriteria van die vervoerbeleid geëvalueer word.
Die besluit wat deur die departementshoof geneem word, moet volledig verduidelik en 'n rekord van die besluitnemingsproses moet verskaf word.
Volgens Stuurman is hierdie besluit na maande se deelname deur verskeie partye, 'n positiewe stap in die erkenning van die ouers, die leerders en hul versorgers se regte en om dit af te dwing.
Mossel Bay Advertiser hou lesers op hoogte oor die uitkoms van verdere besluite.
Buisplaas veg sedert die begin van die skooljaar vir daaglikse vervoer vir hul kinders van Buisplaas na Laerskool Herbertsdale.
Leerders van Buisplaas is aanvanklik met vervoer, wat deur die Buisplaas Trust verskaf is, na Laerskool Herbertsdale aangery.
Vorige artikel:
- Buisplaas vervoer-dilemma lei tot verdere ondersoek
- Buisplaas ouers wag op antwoord oor busvervoer
- Buisplaas verkies busry en nie die koshuisverblyf nie
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’