MOSSELBAAI NUUS - Die inwoners van Buisplaas, 'n plaasnedersetting sowat 22km van Herbertsdale, veg vir 'n busdiens om hulle kinders daagliks skool toe en terug te vervoer.
Die Wes-Kaapse Departement van Onderwys het verlede jaar aangedui dat hulle net 'n busdiens op Maandag-oggende en Vrydag-middae gaan verskaf.
Dit beteken dat die kinders gedurende die week in 'n skoolkoshuis van Laerskool Herbertsdale moet bly.
Die Buisplaas-ouers van kinders wat nou hulle skoolloopbaan begin, weier om hul kinders na die koshuis te stuur.
'n Ouer, Nathan Jantjies verduidelik dat hy self na die koshuis moes gaan toe hy 12-jaar oud was. "Ek kon na myself kyk, maar ek het baie dinge daar gesien en geleer wat nie goed was vir my nie. Ek glo dit is die rede hoekom ek nie my matriek gekry het nie. Die matriekslaagsyfer by die skool was baie laag. Ek kan nie my sesjarige seun in daardie koshuis laat bly nie. Ons word nou met geen ander keuse gelaat nie as om ons kinders self elke dag na die skool te neem en weer te gaan haal maar ons het nie die finansies daarvoor nie."
Saak van verkragting
Die betrokke skoolkoshuis is reeds jare lank in omstredenheid gedompel weens beweerde seksuele praktyke soos die verkragting van seuns.
'n Saak van verkragting is reeds in 2018 aanhangig gemaak nadat 'n negejarige seun deur 'n 15-jarige seun verkrag is. Na ingryping deur die Mosselbaai-polisie se Eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe, word die saak uiteindelik in Maart vanjaar aangehoor.
Volgens die ma van die negejarige seun, het sy tot op hede geen ondersteuning of berading van die skool of beheerraad, sowel as die WKOD gekry nie.
"Ek verwyt myself dat ek my kind soontoe gestuur het. Nadat sy gedrag op negejarige ouderdom begin verander het en hy my huilend vertel het wat gebeur het, het ek met die hoof en koshuisvader gaan praat. Ek het gepleit dat my seun by sy sussie in die kamer kon slaap. Sy is vier jaar ouer as hy en kon na hom omsien. Hulle het ingestem daartoe, maar 'n dag later het die koshuisvader hom weer terug in die seunsafdeling gesit. Ek het hom dieselfde dag uit die koshuis gaan haal."
Skoolvervoer
Die EPCBuis Children Fund Academy het intussen fondse beskikbaar gestel om die 21 leerders skool toe te neem en weer in die middae huis toe te bring. Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement se beleid oor skoolvervoer en skoolkoshuise is soos volg: Die voorsiening van skoolkoshuise en 'n subsidie om die kinders daar te laat bly, is deel van die departement se doelwit om leerders 'n "totale skoolervaring" te gee wat behuising in 'n veilige omgewing verskaf, waar daar spasie vir huiswerk en studie is en die geleentheid om deel te neem aan buitemuurse aktiwiteite. Etes word aan die leerders verskaf wat die lewenskoste vir die ouers verminder.
Volgens Connie Buis, die stigterslid van die EPCBuis Children Fund Academy, is dié betrokke koshuis allermins 'n "veilige omgewing" vir veral seuns. "Die kinders word blootgestel aan praktyke wat hulle hele lewe kan verander en beïnvloed."
Dit beteken dat die kinders gedurende die week in 'n skoolkoshuis van Laerskool Herbertsdale moet bly.
Volgens Buis het die WKOD Dinsdag die aansoek van die ouers afgekeur, weens die toestand van die pad tussen Buisplaas en Herbertsdale. 'n Gedeelte van die roete is grondpad (10 km is grondpad en 12 is 'n teerpad). Volgens Connie Buis, het die EPCBuis Children Fund Academy, hulle prokureurs Equal Education opdrag gegee om te appelleer teen die WKOD se besluit. "Ons gaan nie klippe gooi en bande in die straat brand nie, maar ons gaan op 'n vreedsame manier veg vir ons kinders se regte." Die ma van die seun wat verkrag is, sê dat die WKOD se argument nie sin maak nie. "Hulle is bekommerd oor die kinders op die grondpad, maar nie oor die lewenslange letsels wat hulle op 'n jong ouderdom opdoen in die skoolkoshuis nie."
Mossel Bay Advertiser het die ouers se klagtes met die skoolhoof, mnr Daniel Tintinger, bespreek. Tintinger sê dat daar die afgelope paar jaar geen kriminele klagte was nie en dat die skool deur die WKOD boeliegedrag-programme aanbied om leerders te bemagtig. 'n Bestuurslid van die fonds sê dat daar egter wel onlangs voorvalle tussen kinders so jonk as sewe jaar was en dat die skool daarvan bewus is.
Die Buisplaas-ouers van kinders wat nou hulle skoolloopbaan begin, weier om hul kinders na die koshuis te stuur.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'