ALBERTINIA NUUS - Die veldbrand wat gistermiddag 27 November suidoos van Albertinia uitgebreek het, het vanmiddag 28 November oor die R325 versprei en beweeg in die rigting van die Gouritsrivier.
Volgens die jongste opdatering van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het brandbestrydingspanne ondanks sterk en wisselende windtoestande daarin geslaag om alle strukture te beskerm. Alle strukture is op hierdie stadium veilig.
Brandbestrydingspanne is tans besig om die nuwe brandkol te beheer en te voorkom dat die vuur suidwaarts langs die Gouritsrivier versprei.
Die fokus bly op die beskerming van eiendomme, die inperking van die brand en die veiligheid van inwoners en personeel.
Die publiek word versoek om enige veld- of bosbrand onmiddellik by die GRDM-noodoproepsentrum aan te meld by 044 805 5071 of via WhatsApp by 081 709 5193.
Video: Tuinroete-distriksmunisipaliteit
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’