HARTENBOS NUUS - Hartenbos-versorgingsoord het verlede week die fantasiewêreld van Sneeuwitjie en die sewe dwergies beleef toe verskeie inwoners dié bekende sprokie tydens 'n vertoning by die oord tot lewe gebring het.
Die vrou agter dié betowerende vertoning was Marietjie van Rensburg (90), wat jare lank as musiekonderwyseres in verskeie gebiede gewerk het voordat sy afgetree het.
In gesprek met Mossel Bay Advertiser vertel Van Rensburg dat sy en die ander inwoners dikwels na die kunste luister en dit geniet, maar dat sy dié keer wou hê dat hulle self 'n vertoning aanbied.
"En ons kán," sê sy.
Sy verduidelik dat die meeste inwoners van Hartenbos-versorgingsoord met Sneeuwitjie en die sewe dwergies grootgeword het en dat die sprokie steeds vir hulle 'n gelukkige herinnering aan 'n vroeër tyd in hul lewens is.
Nadat die besluit geneem is, het sy haar dogter, Dina Fourie, gevra om die kostuums te maak, waarna die rolverdeling saamgestel is.
Die sanggroep, wat die sprokie werklik laat lewe het, het uit Van Rensburg, Curly Hanekom, Florene van Vuuren, Gerrie Niewoudt, Sarona Vorster en Sampie Human bestaan.
Die pianis was die 92-jarige Jeanette de Kock, wat gesiggestremd is, en Vorster was die choreograaf.
Rita Oberholzer het die koningin vertolk, Annelie Kok die waarsegster, Johann Joubert die houtkapper, Marie Jacobs Sneeuwitjie en Louis Bothma, wat volgende maand 100 jaar oud word, die prins.
Die sewe dwergies is deur Peter en Judy Robinson, Hein Gerber, Ina Botes, Joyce Coetzee, Stefanie Storm en Lonnie van Rensburg vertolk.
Volgens Van Rensburg is die vertoning Donderdag 19 November aanvanklik net vir die inwoners aangebied. 'n Tweede vertoning is Vrydag 20 November vir die inwoners se familie en vriende gehou.
Sy sê dat die terugvoer van sowel die inwoners as hul familie en vriende baie positief was.
Gevra of sy nog 'n vertoning op die planke sal bring, lag sy en sê dat sy eers daaroor sal moet dink. Sneeuwitjie het ses weke se inoefening en heelwat reëlings geverg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’