MOSSELBAAI NUUS - Die versoek deur Buisplaas-ouers dat die Wes-Kaapse Departement van Onderwys (WKOD) daaglikse vervoer verskaf om hulle kinders van Buisplaas na Laerskool Herbertsdale te vervoer, het verlede week verdere verwikkelinge opgelewer.
Die WKOD het die Eden-distrik opdrag gegee om die aantygings oor insidente wat by die skoolkoshuis voorgekom het, te ondersoek.
Volgens Equal Education se prokureur, Chandre Stuurman, is daar geen aanduiding wat die omvang van die ondersoek behels en wanneer dit afgehandel gaan wees nie.
"Die WKOD het ook nie 'n antwoord gegee op ons versoek vir tydelike vervoer tot daar 'n finale beslissing gemaak word nie. Die kinders van Buisplaas het dus steeds nie daaglikse vervoer vir die 22km na die skool en terug nie.
Nege kinders word tans deur hul ouers vervoer, van die kinders bly in privaat akkommodasie op Herbertsdale en 15 kinders moes teen die ouers se wense weens finansiële redes wel tydelik in die koshuis gaan bly."
Geskiedenis van die saak
Die inwoners van Buisplaas, 'n plaasnedersetting sowat 22km van Herbertsdale, veg vir 'n busdiens om hulle kinders daagliks skool toe en terug te vervoer.
Die WKOD het verlede jaar aangedui dat hulle net 'n busdiens op Maandae-oggende en Vrydae-middae gaan verskaf. Dit beteken dat die kinders gedurende die week in 'n skoolkoshuis van Laerskool Herbertsdale moet bly.
Die Buisplaas-ouers van kinders wat nou hul skoolloopbaan begin, weier om hul kinders na die koshuis te stuur.
Die betrokke skoolkoshuis is reeds jare lank in omstredenheid gedompel, weens beweerde seksuele praktyke en die beweerde verkragting van seuns.
'n Saak van verkragting is reeds in 2018 aanhangig gemaak nadat 'n negejarige seun glo deur 'n 15-jarige seun verkrag is.
Na ingryping deur die Mosselbaai-polisie se Eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe, word die saak uiteindelik in Maart vanjaar aangehoor.
Vorige artikel:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'