Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Landbouer van Herbertsdale, mnr Frik Muller wat daarvan beskuldig word dat hy by drie geleenthede vanaf 6 Desember tot 25 Februarie mense op sy plaas sou aangerand het, se formele borgtogaansoek hervat vandag, Dinsdag, 20 Maart voor landdros Clifton Maseti in die Mosselbaai-landdroshof.
Klagtes van poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer, aanranding gewoon en die besit van onwettige wapens is onder meer teen hom aanhangig gemaak.
Die staat opponeer borgtog omdat Muller gereken word as 'n "bedreiging vir die klaers, omdat die klaers vir hul lewens vrees as borgtog toegestaan sou word, en omdat die gemeenskap van Mosselbaai gekant is teen borgtog vir die beskuldigde".
Kort voor die aanvang van die hofverrigtinge het die politieke party, Icosa, 'n petisie met sowat 600 handtekeninge aan die senior landdros, me Leticia Freeman oorhandig waarin aangedring word dat borgtog geweier moet word.
Icosa raadslid mnr Dawid Kamfer het tydens die oorhandiging die ondersoekbeampte, sers Rudi Swanepoel, vir sy deeglike ondersoek geloof.
Hermie Wentzel en Wikus Kriel, regsverteenwoordigers vir die verdediging, het in die hof die geldigheid van die petisie bevraagteken.
'n Sterk polisieteenwoordigheid is verlede week in die Mosselbaai-landdroshof se A-hof gehandhaaf tydens die borgtogaansoek van 'n landbouer van Herbertsdale, mnr Frik Muller, wat onder meer van poging tot moord aangekla word. Foto: Nickey le Roux
Hulle het ook skriftelike getuienis aangebied van 'n permanente werker op Muller se plaas, asook 'n buurman, wat die klaers se weergawe van die gebeure weerlê.
Toe die regsverteenwoordigers meld dat die polisie beslag gelê het op vyf van Muller se oorlede vader se vuurwapens en dat die wapens deel vorm van 'n onafgehandelde bestorwe boedel, het Muller sigbaar aangedaan geraak.
Muller moet toegelaat word om met sy melkboerdery voort te gaan, het sy regsverteenwoordigers aangevoer, weens die intensiewe aard van sy besigheid wat benewens beeste ook ander vee insluit; die bestuursvernuf wat die heersende droogte van landbouers verg en daarom nie na ander afgewentel kan word nie; en omdat sy bejaarde moeder en plaaswerkers onder meer finansieel van hom afhanklik is.
Lees vorige artikels:
- Opvolg: Borgtogaansoek uitgestel
- Slenterspul met borgaansoeke in hof ontbloot
- Opvolg: Borgtogverhoor van boer
- Boer se borgtogaansoek uitgestel
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'