MOSSELBAAI NUUS - Kultuurskatte soos boeremusiek, afval en potjiekos gemeng met 'n legende is die wenresep vir Saterdag, 17 Augustus se lekker kuier vanaf 18:00 by die ATKV Skoffelskuur op Hartenbos.
Allen Green, boeremusieklegende en speler van 22 instrumente tesame met 'n aantal ander spelers van die Boereorkesgilde insluitend Frikkie von Mollendorf, Thys van Wyk, Hein Ehlers, Whity Olwagen en Dawie Uys sal in aksie wees.
Allen self sal benewens die krismiswurm ook die klawerbord, saksofoon en penniefluitjie bespeel. Hierdie legend wat reeds langer as 70 jaar boeremusiek maak, het sy musiekloopbaan op 10-jarige ouderdom begin toe hy vioollesse geneem het.
Die energieke Allen (86) het te vertel dat hy tans die beskermheer van die nasionale Boeremusiekgilde is asook die voorsitter van die plaaslike
Boeremusiekgilde, maar dat hy beplan om binnekort die tuig neer te lê want hy is net te besig.
Op 'n vraag waarmee hy homself besig hou, kom die antwoord vining. Hy bou krismiswurms, of liewer konsertinas. En nie sommer die kleintjies nie. Nee, hy bou die 40 tot 44 klawer menere. In Engeland is die grootste konsertina beskikbaar 'n 40 klawer.
Die bouery is 'n groot werk en baie ure gaan in die bou van een item. Van Allen se konsertinas swerwe wêreldwyd en het hul pad onder andere na Kanada en Australië gevind.
Allen wat in die Stutterheim-distrik in die Oos-Kaap gebore is, is al sedert 1974 op Mosselbaai waar die klein mannetjie met die yslike hart 'n bekende gesig is.
Hy mag klein van postuur wees, maar in die boeremusiekwêreld is hy 'n reus met verskeie toekennings en eretoekennings. Sy orkes het deur die jare bekende musikante soos Freddie Rheeder opgelewer.
Die Koswerf by Na-Donker sit 'n afval- en potjiekosbuffet voor om elkeen se mond te laat water.
Vir slegs R100 per persoon kan jy boeremusiek uit die boonste rakke luister, op die dansvloer laat waai en jouself aan die Afrikaanse kosskatte ophang.
Vir navrae en kaartjies skakel 044 601 7223.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'