MOSSELBAAI NUUS - ‘n Boer van Mosselbaai wat teen sy skuldigbevinding en vonnis op ‘n aanklag van dieremishandeling geappelleer het, se appél is van die hand gewys.
Die 29-jarige beskuldigde, Jimmy Barnard is vroeër skuldig bevind dat hy ‘n 13-jarige Duitse Herdershond genaamd Spotty onwettig en met opset in die kop geskiet het.
Spotty het aan ‘n plaaswerker van Barnard behoort en was aan ‘n paal vasgemaak toe hy geskiet is.
Die voorval het in Oktober 2014 op Barnard se plaas naby Groot-Brakrivier gebeur. Die plaaswerker het Spotty vir 13 jaar as ‘n troeteldier gehad.
Spotty is ten aanskoue van die plaaswerker en sy kinders deur Barnard doodgeskiet.
Barnard het tydens sy verhoor aangevoer dat Spotty sy beeste en skape gejaag het en dat die plaaswerker hom toestemming gegee het om vir Spotty te skiet.
Regters Mushtak Parker en Elize Steyn het Dinsdag tydens uitspraak in die Wes-Kaapse Hooggeregshof gesê Barnard het op ‘n brutale en arrogante manier opgetree.
Sy appél is van die hand gewys.
Barnard is gevonnis tot R7000 of sewe maande tronkstraf wat vir vyf jaar opgeskort is.
Barnard moet ook ‘n boete van R3 211 aan die dierebeskermingsvereniging betaal.
Lees die bevel onder:
NPA welcomes judgment in the appeal of Jimmy Barnard: Judgement
Klik hier vir vorige artikels:
- Boer vir dieremishandeling gevonnis
- Opvolg: Boer wat hond skiet gevonnis
- Vrou verlig maar treur oor hond
- Man skiet hond: Skuldig aan dieremishandeling
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'