Update
MOSSELBAAI NUUS - Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, Anton Bredell het die afgelope week aan die Mossel Bay Advertiser gesê die kwessie aangaande bewerings deur voormalige DA-raadslid, Anco Barker dat die DA-koukus in Mosselbaai oneerlik is, sal opgevolg word.
Bredell het by monde van sy woordvoerder, Wouter Kriel gesê: “Die kwessie sal opvolg word aan die hand van toepaslike wetgewing om te bepaal of die proses wettig was, al dan nie.
Dit volg nadat Barker voorverlede week op sosiale media in ‘n video haar bedanking as DA-raadslid aangekondig het en waarin sy die DA-koukus van oneerlikheid beskuldig.
Die beweerde oneerlikheid waarna Barker verwys spruit uit ‘n voorval in Junie 2022 waartydens sy beweer die raad opsetlik mislei is oor munisipale bestuurder Colin Puren se salarisskaal.
Barker het die afgelope week aan die Advertiser gesê dit gaan teen haar grein dat die DA-koukus munisipale bestuurder, Colin Puren in Junie 2022 op ‘n maksimumsalarisskaal aangestel het ondanks skrywes deur Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, Anton Bredell en dr. NKosazana Dlamini-Zuma (toe nog minister van samewerkende regering en tradisionele sake) dat sy salaris op ‘n laer skaal moes wees.
'Niks persoonlik'
Barker sê sy het niks teen Puren se aanstelling as munisipale bestuurder nie, en dat dit nie persoonlik is nie, maar dat sy meen burgemeester Dirk Kotzé en die DA-koukus was oneerlik en oneties om nie die res van die raad van Dlamini-Zuma en Bredell se briewe in te lig nie.
Sy sê sy het in Julie 2022 die klagte gemaak by die DA se federale regskommissie ingedien deur middel van 'n dispuut wat ander kwessies ook insluit, en ook ‘n skrywe aan voorsitter van die kommissie, Helen Zille gerig.
Die koukus beweer dat Barker nie die party se advies gevolg het om dit by die DA Governance Unit aan te meld nie. Barker sê egter die bewering is ongegrond.
Barker is kort nadat sy aan die koukus haar beswaar teenoor die salarisskaal en haar standpunt gemaak het oor die onetiese gedrag om "die briewe van die res van die raad te weerhou asook om die vereistes van die Nasionale Minister te minag" van die Garden Route-distriksmunisipaliteit herroep waar sy op die burgemeesterskomitee gedien het. Die DA koukus het daarenteen bevestig dat die herroeping gevolg het op talle klagtes, beide van binne die Mosselbaai-koukus, asook van die distriksmunisipaliteit se koukus en “ook privaat instansies en individue.” Die inhoud van die beweringe is nie aan die Advertiser bekend nie.
Die koukus weier om op die inhoud van die beweringe uit te brei hoewel die Advertiser die koukus om kommentaar genader het.
Koukus reageer
Die DA-koukus hou vol dat Kotzé nie buite sy mandaat opgetree het nie. Die koukus sê die burgemeester het op 9 Februarie 2022 die raad se eenparige mandaat ontvang om die aanstelling en salaris af te handel. "Die briewe het daarna gevolg, toe die aanstelling aan die ministeries per brief bevestig is."
“Nóg Kotzé, nóg die Koukus, stel die raadstukke saam wat voor die raad dien en dus kan ons nie kommentaar lewer op waarom die briewe as sodanig nie op 30 Junie voor die raad gedien het nie.” Volgens die koukus het die volle Raad reeds op 9 Februarie die burgemeester die eenparige mandaat gegee om die aanstelling en salaris af te handel. “By hierdie vergadering is die keurpaneel se uitslae en aanbeveling ook voorsien.”
Op ‘n vraag oor hoekom Kotzé voortgegaan het om Puren op die hoogste skaal aan te stel terwyl Bredell en Dlamini Zuma elders voorgestel het, sê die koukus: “Die skrywes was teenstrydig, daarom het die burgemeester wyd gekonsulteer, met die burgemeesters en munisipale bestuurders van ander vergelykbare munisipaliteite, menslike hulpbronbestuurders en ander kenners gepraat om die tendens te bepaal alvorens die aanstelling en salaris gefinaliseer is.”
Die koukus sê op die vergadering in Junie, waar Barker afwesig was, was die salarisskaal in die raadstukke gemeld.
Partye reageer
Intussen het verskeie partye hul kommer die afgelope week oor Barker se bewerings uitgespreek.
Die Independent Civic Organisation of South Africa (Icosa) se leier, Dawid Kamfer het aan die Advertiser gesê dit ontstel hom dat Bredell en Dlamini-Zuma se briewe van die raad weerhou is. “Die weerhouding van die briewe is onverantwoordelik teenoor die belastingbetalers van die dorp.”
ACDP-raadslid, Jeanette Gouws sê in ‘n verklaring raadslede aanvaar dat wanneer ‘n item op ‘n agenda geplaas word, alle sake aangaande die item volledig openbaar is sodat ‘n ingeligte besluit geneem kan word.
"Die reaksie van DA-burgemeester, Dirk Kotzé, aan die verslaggewer van die Rapport, waarin hy meen dat, by terugskoue, hy die situasie anders kon hanteer is rede tot groot kommer."
Vorige artikel:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’