Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Buitelander wat van die verkragting van 'n 11-jarige meisie van Asla Park aangekla word, is na wat verneem word, onwettig in die land.
Die 38-jarige verdagte het gister in die Mosselbaai-landdroshof verskyn vir 'n formele borgaansoek.
Die borgaansoek het egter nie voortgegaan nie omdat die hof verskeie uitstelle in ander sake moes hanteer.
Die man, wat van Lesotho afkomstig is, is sedert 24 Augustus in aanhouding, nadat hy op heterdaad in die slagoffer se huis betrap is.
Volgens die polisie het die slagoffer se pa op die betrokke aand om middernag by die huis aangekom en op die verkagting afgekom. 'n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die verdagte die slagoffer na bewering op die gesin se sitkamerbank verkrag het.
Die slagoffer se ma het glo elders in die huis geslaap. Haar pa het die verdagte in die huis vasgekeer en die polisie ontbied. Hy is op die toneel in hegtenis geneem.
Die verdagte bly in aanhouding hangende die uitkoms van sy borgaansoek wat vir 'n week uitgestel is.
Die staat het aangedui dat borgtog geopponeer sal word omdat die verdagte nie die nodige dokumentasie in sy besit het om in Suid-Afrika te wees nie en dus 'n vlugrisiko is.
VORIGE ARTIKELS:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’