MOSSELBAAI NUUS - Die 90-jarige Maria (Marie) Nortjé van Albertinia het vandeesmaand die 100ste aortaklepvervanging by Life Bay View-hospitaal ontvang.
Dié bal is aan die rol gesit toe Nortjé in Februarie vanjaar haar kardioloog, dr HW Snyman, by die hospitaal gaan sien het vir 'n roetine-ondersoek waar haar pasaangeër ook getoets is.
Ondersoek
Met die ondersoek is bevind dat sy aortastenose (vernouing van die klep tussen die onderste linker hartkamer en die hoofslagaar) het.
Dit het egter so goed met haar gegaan dat sy kort daarna nog saam met haar dogter 'n besoek aan Istanbul gebring het, waar hulle tot 10km per dag gestap het.
Teen die einde van April het dinge egter verander en behalwe dat sy gou moeg geword het, was sy ook gedurig kortasem.
Kardioloog
Ná nóg 'n besoek aan die kardioloog, is daar besluit dat sy 'n transkateter aortaklepvervanging moes ondergaan, wat op Vrydag, 12 Julie, op haar uitgevoer is.
Wat sy nie geweet het nie, was dat haar operasie ook 'n besondere mylpaal vir die hospitaal se hartspan beteken het, omdat sy die 100ste pasiënt was, wat deur dié prosedure gegaan het.
Dié geleentheid is luisterryk met balonne gevier om dié mylpaal te herdenk.
"Dit was lekker om deel van dié mylpaal te wees," het sy gesê.
Prosedure
Die prosedure is in so 'n mate suksesvol afgehandel dat sy slegs een aand in die hoësorg-eenheid deurgebring het voor sy op Saterdag, 13 Julie, ontslaan en huis toe is.
Haar kortasem en moegheid was weg en vir haar kinders was dit 'n seëning om hul ma weer by hulle te hê, wat die lewe met nuwe lewenslus aangepak het.
Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus.