Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Mandeladag word jaarliks wêreldwyd gedenk met besighede, organisasies en individue wat vir ten minste 67 minute liefdadigheidswerk doen.
By die Zettie Jonker Hulpsentrum in Aalwyndal, Mosselbaai, is daar Maandag reeds van vroeg af gewoeker om die speelterrein op te knap, te verf en die tuine te verfraai voor die kinders terugkeer vir die derde kwartaal.
Volgens die hoof van die skool, Zettie Jonker, is die instandhouding van die skoolterrein en die voertuie 'n groot uitgawe vir die skool. Hulle waardeer veral ook die gemeenskap se hulp met die herstel van die heining wat die ystervarke uit die skool se groentetuin moet uithou.
Jonker sê die groentetuin bly 'n uitdaging met die ystervarke wat heerlik aan die kool kom smul.
Jodia Halgryn van Avbob Lewens, Mosselbaai, sê hulle werknemers wou graag die skool ondersteun omdat hulle soveel vir die kinders in die gemeenskap doen en altyd hulp nodig het.
VIDEO: Zettie Jonker, hoof van skool
Die span van Gondwana Natuurreservaat was al vroeg besig om swaaie reg te maak en nuwe toerusting vir die speelterrein te verf.
Raquel de Castro Maia, die bemarkingspersoon by Gondwana Game Reserve, sê hulle glo dat kinders met leerprobleme baat vind deur te speel en daarom wou hulle die skool help deur nuwe apparate te maak en oues op te knap.
Die manne van 'n plaaslike besigheid maak apparaat reg vir die speelterrein by ZJ Hulpsentrum. Foto's: Alet Engelbrecht
VIDEO: Raquel de Castro Maia, Gondwana Game Reserve
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'