MOSSELBAAI NUUS - "Mosselbaai kan beslis munt slaan uit passasierskepe wat in die baai vasmeer," sê die operasionele bestuurshoof van Mosselbaai Toerisme, Aneli Gerber.
Sy het reageer op navrae van die Mossel Bay Advertiser nadat inwoners hul kommer uitgespreek het omdat die skepe se passasiers gewoonlik met groot toerbusse na naburige dorpe op ekskursies geneem word en die persepsie bestaan dat Mosselbaai nie ekonomies voordeel trek uit die besoekers nie.
Gerber sê die ekonomiese voordeel van passasierskepe bevoordeel vir die hele Tuinroete.
Passasiers aan boord van luukse skepe word die opsie gegun om na buurdorpe te reis. Sommige plaaslike besienswaardighede word goed ondersteun deur hierdie passasiers maar tog bestaan steeds `n persepsie dat Mosselbaai nie genoeg besienswaardighede het om die toeriste te vermaak nie.
"Dit is dus `n groot prioriteit vir Mosselbaai Toerisme om met hierdie agente te skakel om seker te maak hulle kry die jongste inligting en is bewus van Mosselbaai se besienswaardighede. In die afgelope jaar is herhaaldelik met hierdie agente geskakel en is Mosselbaai se produkte aktief bemark. Ons sal egter eers die sukses van hierdie interaksie oor `n jaar of meer ervaar wanneer dit in die nuutste pakette ingewerk word. Dit is egter verblydend om te weet dat Mosselbaai operateurs wel gebruik word en elke moontlike vervoermiddel eers plaaslik gewerf word voor agente elders om hulp aanklop," sê Gerber.
Nog 'n persepsie wat sy betwis is dat Mosselbaai Toerisme tot twee jaar vooruit inligting oor besoekende skepe. "Ons ontvang die skeepsinligting tot en met twee tot drie weke voor die aankoms van die skip. Daar is verskeie agente in die voorsieningsketting wat waarde tot die proses byvoeg, waarvan Toerisme net een skakel in die ketting is. Toerpakette word wel 18 tot 24 maande voor die tyd saamgestel en verkoop en daarom is die uiters noodsaaklik dat plaaslike verskaffers seker maak hulle produkte aan hierdie agente bekend is. Diegene wat woeker met hulle bemarking, pluk reeds die vrugte van hulle beleggings."
Gerber sê ook daar is gevorder met die saamstel van 'n QR-roete vir besoekers, 'n kontrakteur is reeds aangestel en tans word openbare menings daaroor getoets.
Sy voeg by dat Mosselbaai Toerisme met elke skip se aankoms `n inligtingstafel by die hawe beman om kaarte en brosjures van die plaaslike besienswaardighede, restaurante en winkels te verskaf. "Ons ontmoet dus die meerderheid van die passasiers wanneer hulle aan wal stap. By die kantoor word passasiers verder gehelp om toere te bespreek, gidse te kontak of besienswaardighede te bespreek. Dit is altyd `n besige dag wanneer daar `n boot in die hawe is."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'