MOSSELBAAI NUUS - Die Hartenbos-dienssentrum het op 17 Junie die vierde omgeegroepbyeenkoms gehou vir versorgers en geliefdes van pasiënte met Alzheimer se siekte.
Daar is 'n WhatsApp-groep wat bykomende ondersteuning bied. Rina Fourie, die groepkoördineerder is, kan tydens kantoorure (044 604 6800, uitbreiding 301) gekontak word.
Hettie Theron van Alzheimer SA in George, is ook betrokke by hierdie omgeegroep en altyd beskikbaar om vrae te beantwoord.
Gedurende Junie is kursusse vir versorgers aangebied en suksesvol voltooi.
Sewe fases van Alzheimer se siekte:
- Geen duidelike simptome.
- Subjektiewe vergeetagtigheid en normale ondersoek.
- Probleme by werk; sukkel met spraak; verdwaal in onbekende plekke; familie raak bewus van probleem; subtiele agteruitgang met ondersoek.
- Inkorting in vermoë om te reis, te tel en onlangse gebeurtenisse te onthou.
- Het hulp nodig om klere uit te soek; disoriëntasie ten opsigte van tyd of plek; sukkel om name van byvoorbeeld kleinkinders te onthou.
- Het toesig nodig om te eet en vir persoonlike higiëne; kan inkontinent raak; disoriëntasie ten opsigte van tyd, plek en persoon.
- Verlies van spraakvermoë; inkontinensie; motoriese styfheid.
Dit is baie belangrik om die verskillende stadiums van die siekte en/of waar 'n pasiënt op die skaal geleë is, te verstaan.
Anieta Lombard by die navorsingsinstituut vir demensie, Excellentis, kan vir 'n gratis evaluering gekontak word (082 784 9570).
Inligting sal ook op die WhatsApp-groep beskikbaar wees.
Punte van belang
Persone wat aan Alzheimer se siekte ly, se lewenservaring verskil van gesonde persone. Hulle lewe eintlik in ‘n ander dimensie.
Familie en vriende van persone wat aan Alzheimer se siekte ly moet, ten einde frustrasie en konflik te vermy, so gou as moontlik die diagnose aanvaar en die nodige aanpassings maak.
Moedig die pasiënt aan om die take aan wat vir hulle haalbaar en moontlik is te doen. Gee eerder leiding in plaas van opdragte of bevele.
Gee slegs twee keuses, in plaas van 'n veelvoud opsies, byvoorbeeld water of koeldrank, tee of koffie in plaas van om te vra: “Wat wil jy hê om te drink?”
Voedingstowwe wat goed is vir die brein word gevind in onder meer donker sjokolade, rooiwyn en koffie.
Toiletroetine by pasiente met Alzheimers se siekte kan senutergend wees. ‘n Voorstel is om die kleur van die toiletsitplek anders te maak as die toiletbak of vloer.
Probeer om jou geliefde se lyftaal of selfs geluide te lees wat ‘n aanduiding kan wees van ongemak of pyn veral wanneer hulle dit nie meer kan verwoord aan jou nie.
Aanvaar dat dankbetuigings of “goeie maniere” iets van die verlede word, en ook dat inhibisies verdwyn.
Verdere punte wat onder bespreking is, is Alzheimer se siekte in vergelyking met narsisme, asook die gebruik van voorskrifmedikasie teenooir natuurlike middels as deel van behandeling.
Rina Fourie het hierdie diagram van die brein by die byeenkoms gewys.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'