MOSSELBAAI NUUS - Geen klagte van diefstal is nog by Groot-Brakrivier se polisie aanhangig gemaak teen diegene wat op grootskaal implemente en infrastruktuur steel wat bestem was vir die vestiging van 'n hoenderplaas in die omgewing.
Dit, ondanks beweringe deur die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming dat klagtes wel gemaak is.
"Die departement is tans in onderhandeling met die raad van belanghebbendes (council of stakeholders) om besit te neem van die voorraad wat nog nie weggedra is nie," berig die departementele woordvoerder, Vuyani Nkasayi.
"In 'n poging om die probleem van die voorgenome hoenderplaas op te los, het die departement die voorsitters van die onderskeie koöperasies (Brandwag, Friemersheim en Groot-Brakrivier) ontmoet en ooreengekom dat die materiaal onder die koöperasies versprei sal word. 'n Verdelingsplan sal binnekort afgehandel word."
Die koöperasies met hul onderskeie begunstigdes het in 2014 tot stand gekom om die voorgenome hoenderplaas en verwante bedrywe soos onder meer 'n beplande 'n abbatoir te bedryf.
Van die voorneme om 'n hoenderplaas te vestig, gaan nou skynbaar niks kom nie.
Nkasayi wou hom nie uitspreek oor die verspilde uitgawes verbonde aan die projek nie. Op die Mossel Bay Advertiser se pertinente vraag na verkwiste uitgawes, het Nkasayi bloot gesê: "Sodra die toerusting versprei is, sal ons die presiese bedrag wat aan die projek bestee is, kan bepaal."
Gemeenskapsvoordeel
Intussen is daar geen aanduiding watter voordeel die groter gemeenskappe van die landelike gemeenskappe gaan put uit die implemente en voorraad, onder meer sementmengers, dakplate, grootmaatwaterhouers, selfs skroewe en moertjies wat bloot weggegee gaan word en vrae daaroor lei nie tot klinkklare antwoorde nie.
Die waarnemende voorsitter van die raad van belanghebbendes op Groot-Brakrivier, mnr Barry Jacobs, sê die gemeenskap is radeloos en vra vrae oor die vrugtelose uitgawes wat aangegaan is, en wie daardeur bevoordeel word.
Hy het persoonlik by herhaling navrae aan die departement gerig, onder meer vir 'n amptelike inventaris van voorraad wat versprei gaan word, maar kry in ruil "'n dreigende houding deur amptenare" van die departement. Intussen gaan misdadigers voort om die skeepshouers waarin die voorraad reeds sedert 2014 gehou word, te stroop.
Met die Advertiser se besoek in Mei vanjaar, het was die plaashek na die perseel waar die houers staan, asook meeste van die vraghouers met slotte gesluit. Sedertdien is die plaashek se slot en die slotte van die meeste van die skeepshouers verwyder.
Volgens mnr Jacobs vrees die grondeienaar waar die houers staan vir sy familie se veiligheid aangesien misdadigers gereeld by die houers bedrywig is.
Die departement het die munisipaliteit intussen versoek om te help om die houers deur teen deur te skuif sodat daar nie so maklik ingebreek kan word nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'