GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Daar word onlangs weekliks tussen drie en vier klagtes van bedrog by die Groot-Brakrivier Polisie aangemeld.
En dit is nie sommer net klein bedrae nie, sê die polisie, dit is enigiets van R500 tot R500 000 waaruit mense geswendel word.
Dit sluit in gevalle waar mense op vreemde skakels klik wat aan hulle gestuur word, hulle persoonlike besonderhede oor die foon verskaf en ook ander insidente waar mense vir dienste of produkte betaal voor hulle dit ontvang het, of voor hulle volledig geverifieer het dat die "verkoper" of "verskaffer" betroubaar is.
Groot Brak asook die ander stasies in die Mosselbaai-omgewing het inwoners weer eens gewaarsku om bedag te wees op hierdie insidente en van die volgende wenke gedeel:
• Moet nóóit persoonlike inligting of OTP-kodes oor die foon deel nie. Selfs al klink die persoon betroubaar. Jou bank of diensverskaffer sal nóóit dié inligting op só manier vra nie.
• Moet nóóit op onbekende skakels in jou e-posse of WhatsApp-boodskappe klik nie. Jou bank of diensverskaffer sal ook nie so vir jou inligting vra nie.
• As so iets gebeur, kontak jou bank direk en moet onder geen omstandighede jou inligting met vreemdelinge deel nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’