MOSSELBAAI NUUS - Sakelui het heerlik skouers geskuur in Standard Bank se pas opgeknapte, nuwe generasie tak in die Langeberg Mall tydens die Mosselbaai Besigheidskamer se vergadering vandeesweek.
Area-bestuurder André Jonker het sakelui met 'n gemaklike local is lekker-aankondiging laat tuis voel en hiermee aangedui dat Standard Bank hulle invloed plaaslik wil laat geld deur toenemende betrokkenheid by inisiatiewe in Mosselbaai, soos om onder meer 'n aktiewe lid van die besigheidskamer te wees. Jonker het uitgestip dat Standard Bank tans veral daarop fokus om alle bankdienste by een tak te sentraliseer. Dit is dus vir kliënte moontlik om alle bankdienste by een tak te kan verrig, sonder dat hulle genoodsaak word om byvoorbeeld 'n groter tak te besoek vir gespesialiseerde dienste.
Voorsitter van die besigheidskamer, Paul Kruger het lede herinner aan die organisasie se algemene jaarvergadering op 9 April by die ATKV Koswerf, Hartenbos Seefront, wanneer 'n nuwe bestuur verkies sal word.
Kruger het met trots verwys na goeie samewerking tussen sakelui en die Mosselbaai-munisipaliteit ten tye van die onlangse gespreksgeleentheid met Total, aangaande die eksplorasie en ontwikkeling van gasvelde aan die Mosselbaaise kuslyn. Hy het gesê dat hy veral beïndruk was met hoe goed al die betrokke partye Mosselbaai bemark het as die top keuse vir die beplande ontwikkeling van die gasvelde.
Nuwe lede wat by die besigheidskamer ingeskakel het is Marius Erlank van Reflexions Professional Hair en agent by Property Connect, Gys van Staden van Pavati Water en spysenier, Ronelle Stopforth. Tot groot vermaak van die ander gaste, het beide Erlank en Van Staden gewen tydens die gelukstrekkings wat gedoen is, wat onderstreep waarom "dit voordelig is om deel van die besigheidskamer te wees", het die voorsitter Paul Kruger ewe tong in die kies, opgemerk.
Nuwe lede van die Mosselbaai Besigheidskamer, Marius Erlank, Ronelle Stopforth en Gys van Staden saam met die voorsitter, Paul Kruger (tweede van regs).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'