Met die aanvang van die landswye 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders, het die nagmerrie-ondervinding wat die kind moes deurmaak, in die hof begin ontvou.
Verskeie getuies het getuig in die verhoor van die beskuldigde, wat ook die kind se pa is. Tertius van den Bergh (27) word van poging tot moord aangekla. Van den Bergh beweer hy was ontoerekeningsvatbaar tydens die aanranding.
Die aard van die baba se beserings is deur die pediater met die impak van dié van 'n motorongeluk vergelyk.
Baba Van den Bergh het een gebreekte been, 10 gebreekte ribbes (vyf aan beide kante van sy lyf), 'n lewensbedreigende kopbesering en moontlike ander breuke in sy lyf gehad.
Die tydperk van mishandeling is tans onduidelik, maar daar word vermoed dat dit tussen 26 en 27 Augustus 2012 in die huis waarin die beskuldigde in Island View gewoon het, sou plaasvind.
Die beskuldigde was besig om van die kind se ma te skei en het die baba glo enkele dae voor die voorval by haar in Gauteng gaan haal. Die seuntjie se driejarige sussie het toe reeds 'n tyd-perk by Van den Bergh en sy ma (haar ouma) gewoon.
Dr Ceiridwen Davies, wat deel is van 'n kindermishandeling-span by die Rooikruis Kinderhospitaal, het vir Landdros Daniël Boks gesê indien dokters nie destyds 'n noodoperasie op die kind toegepas het nie, hy beslis sou sterf. 'n Gedeelte van sy skedel moes tydens die operasie verwyder word, omdat sy brein geswel het.
Volgens dr Davies is die tipe beserings van Baba Van den Bergh tipies dié van 'n baba wat geskud is. Oor sy gebreekte been het dr Davies getuig die breuk moes as gevolg van 'n geruk en pluk ontstaan het. Sy het getuig dat die baba se kop met 'n voorwerp geslaan moes wees, of teen 'n voorwerp vasgeslaan is. Oor die gebreekte ribbes, het dr Davies getuig dit kon ontstaan toe die baba aan beide kante van sy lyf vasgehou en met fors gedruk is.
Erge mishandeling
'n Maatskaplike werker van die ACVV Mosselbaai, Amanda Beukes, het getuig hoe die sussie tydens 'n onderhoud vir haar sou sê, "wanneer my boetie huil, vat pappa hom onder sy ken en skud hom."
Die beweerde aanranding het aan die lig gekom toe Van den Bergh die baba na Fanie's Apteek in Mosselbaai gevat het, omdat die baba se been geswel was.
Hy het blykbaar beweer die swelling was as gevolg van 'n roetine inenting. 'n Suster by die apteek het Van den Bergh na 'n plaaslike pediater in Mosselbaai verwys, waarna die baba na 'n hospitaal in George geneem is.
Weens die erns van sy beserings, moes hy oorgeplaas word na die Rooikruis Kinderhospitaal.
Dit is nog onduidelik of die beserings op een slag, of oor 'n tydperk toegedien is. Uit getuies blyk dit wel dat die baba se toestand drasties versleg het vandat hy deur die apteeksuster gesien is totdat die plaaslike pediater hom ondersoek het.
Beukes het getuig hoedat die ACVV se kantoorhoof 'n telefoonoproep van 'n maatskaplike werker van die Rooikruis Kinderhospitaal ontvang het.
"Sy het gesê daar is 'n erg mishandelde kind en dat daar nog nooit so 'n erg mishandelde kind in die Rooikruis opgeneem is nie."
Beukes het Van den Bergh na haar kantore laat kom om met hom oor sy kinders te gesels. Sy het hom in die hof as gespanne en bleek tydens haar gesprek met hom beskryf.
Brain Carelse, vir die verdediging, het tydens kruisverhoor dit bevraagteken of 'n kind van driejarige ouderdom ten volle die waarheid kan praat. Van den Bergh was netjies geklee in 'n denimbroek en wit- en blou strepies hemp. Hy het deurgaans uitdrukkingloos voor hom gestaar. Baba van den Bergh is onlangs in pleegsorg geplaas. Hy is 1 jaar en vyf maande oud maar volgens getuies in die hof is sy ontwikkelingsvermoë soos die van 'n vier maande oue baba en kan hy nie self sit nie. Op 'n vraag van Michelle Weyers, vir die Staat, oor of die seuntjie ooit weer normaal sal wees, het dr Davies "nee" geantwoord.
Die saak is uitgestel na 28 Januarie 2014.

Die beskuldigde bly in aanhouding.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'