Video
MOSSELBAAI NUUS & VIDEO - Mosselbaaier, Willie Seconds (51) laat nie op hom wag om die dag te pluk nie. Willie woon in KwaNonqaba en is in dié buurt vir sy passie vir groente bekend.
Hy het 'n pragtige groentetuin, wat deur sy twee honde opgepas word.
"Jy het nie veel nodig om met 'n groentetuin te begin nie. Mense weet dit nie, maar as jy 'n stukkie grond het, so lank en so breed soos 'n deur, kan jy vir jou gesin sorg." Willie werk die afgelope 15 jaar in Jannie en Jeanne Snyman se tuin.
"Dit is by hulle wat ek geleer het. Ons mense ken nie slaai nie. Meneer Snyman het my geleer wat slaai is en hoe om met kompos te werk. Mevrou Snyman het my geleer hoe om rose te sny, hoe om bome te sny en ek kan ook met akkers werk."
Kyk 'n video hieronder.
Willie sê hy het lankal aansoek gedoen om hulp te kry met sy huistuin. 'n Watertenk sal vir hom van groot hulp wees. "Almal het my besonderhede, maar niks het ooit gebeur nie."
Hy kyk om hom rond en beduie na leë dromme in sy erf. "Kyk daar, daar is my dromme vir my water. Ek wag nie vir hulp nie, ek doen my eie ding."
Hy sê dit is 'n droom van hom om die kinders by die Civic Park-crèche te leer wat slaai is en hoe om groente en slaai te plant. "Ek wil daar 'n groentetuin vir die kinders begin en ek wil hulle leer hoe om te plant."
Willie het drie kinders en is al etlike jare met Yolandi getroud. "Dit is haar werk om die blomme nat te lei," sê hy trots. Volgens Willie is dit ekonomies om beet, wortels en kool te plant. "Dan sal jy altyd kos op die tafel kan sit. Goed soos uie vat minstens 200 dae."
Willie koop sade by 'n plaaslike winkel. "Daar is nie 'n verskoning om nie 'n groentetuin te begin nie. Almal kan dit doen en as jy nie kan bou nie, dan plant jy."
Willie spog met sy blomtuin.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'