MOSSELBAAI NUUS - Pas is Kinderbeskermingsweek landwyd met die tema; "Kom ons beskerm alle kinders om Suid-Afrika vorentoe te beweeg" gevier.
In skrille kontras is vyf kinders van Mosselbaai se lewens in die bestek van 'n week ingrypend verander.
6 Junie: Om 16:45 sterf die driejarige Lithabo Magoda toe 'n minibustaxi hom in Ndibanisoweg, KwaNonqaba tref. Hy en 'n 11-jarige was passasiers in die taxi wat gelisensieer is om skoolleerders te vervoer. Na bewering het die voorval plaasgevind toe Lithabo die 11-jarige na bewering oor die straat gevolg het.
Lees die volledige artikel hier: Taxi claims toddler's life
8 Junie: Omstreeks 18:00 word 'n 16-jarige jeugdige in Hillcrestlaan, Greenhaven in Groot-Brakrivier met 'n mes gewond toe die 45-jarige Hansie Oktober vyf mense toetakel, met 'n mes in elke hand. Die 16-jarige seun en drie ander slagoffers is in die hospitaal vir hul wonde behandel, terwyl die die 22-jarige Renaldo Kruger aan sy wonde beswyk het.
Lees die volledige artikel hier: Messteek-verdagte voorheen aangekla
10 Junie: Om ongeveer 11:00 is 'n 15-jarige graad 9-leerder besig om by die Indwe Sekondêre Skool in KwaNonqaba eksamen te skryf toe 'n groep gewapende jeugdiges in gewone klere hom in die skool aanval. Hy word met 'n mes in die rug gesteek en in die Mosselbaai provinsiale hospitaal behandel. Die Wes-Kaapse onderwysdepartement skryf die voorval aan bendeverwante bedrywighede toe.
Lees die volledige artikel hier: Gang violence escalates at Indwe
12 Junie: Weer eens by Indwe Sekondêre Skool is 'n 18-jarige graad 11-leerder met 'n mes op die skoolterrein toegetakel ondanks verhoogde polisieteenwoordigheid. Die leerder is vir 'n meswond aan die rug behandel en uit die Mosselbaai provinsiale hospitaal ontslaan. Hy het 'n klag by die KwaNonqaba-polisie teen sy 16-jarige aanvaller, 'n graad 9-leerder aanhangig gemaak. Weer eens word die voorval aan bendegeweld toegeskryf.
Lees die volledige artikel hier: Gang violence escalates at Indwe
12 Junie: Omstreeks 14:00 word 'n graad 1-leerder van Laerskool Hartenbos op pad na sy huis in Sonskynvallei op Louis Fourieweg deur 'n 'n voertuig getref. Hy word ernstig beseer en is na wat verneem word in kritieke toestand.
Lees die volledige artikel hier: 7-Jarige na skool raakgery
Die stasiekommissaris van die KwaNonqaba-polisiestasie, lt-kol Azisa Madongana betuig haar meegevoel met die ouers van Lithabo Magoda, wat op 6 Junie dood is toe 'n minibustaxi hom getref het. Sersant Lubabalo Baleni en Gladman Kakaza van die KwaNonqaba-polisie se gemeenskapspolisiëringsforum het ook met die gesin gesimpatiseer.
Die KwaNonqaba-polisie is op Woensdagoggend weer eens na die Indwe Sekondêre Skool ontbied toe 'n tweede messteekvoorval binne twee dae by die skool aangemeld is. Foto: Nickey le Roux
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'