Update
MOSSELBAAI NUUS - Enkele ure na 'n Danabaai-inwoner (67) Vrydagoggend, 26 Oktober om omstreeks 06:30 deur twee onbekende mans oorval, aangerand en beroof is, is die boosdoeners aangekeer.
Die vrou, wat alleen woon het vullissakke buite haar huis geplaas.
"Toe die vrou weer in haar huis in Angelicastraat ingaan, het die twee mans haar oorval en in die motorhuis ingedwing. Een van die mans het 'n balaklava gedra, die ander het lap om sy gesig gedra om hul identiteit te verberg. In die motorhuis het die aanvallers die vrou vasgebind en erg aangerand, waarna hulle ontvlug het met onder meer 'n juwele, selfoon, skootrekenaar en kontant. Die vrou kon om omstreeks 07:00 daarin slaag om haarself te bevry en het by haar bure om hulp aangeklop. Die bure het die polisie ontbied.
Die kriminele is deur sers Vaas en reserviskonstabel Donovan Duitsjan gearresteer, bygestaan deur kapt Ashley Michaels, ao Swanepoel en sers Kekaza en Ndala.
Een van die verdagtes het onlangs stukwerk vir die vrou in haar tuin gedoen en was dus aan haar bekend. Die polisie het die vrou se juwele, selfoon en skootrekenaar skaars ses uur na die voorval in besit van die verdagtes gevind, maar soek steeds na die vuurwapen wat in die voorval gebruik is, aldus die KwaNonqaba-polisie se woordvoerder, sers Kapp.
"Die KwaNonqaba-polisie bedank die gemeenskap vir die positiewe inligting wat tot die arrestasie van die twee kriminele, wat aan die polisie bekend is, gelei het. Die vrou is nie vir haar beserings gehospitaliseer nie, maar is getraumatiseer.
Die polisie maan weer eens inwoners om nie stukwerkers wat aan hulle onbekend is in diens te neem nie.
Die polisie ondersoek 'n saak van huisroof," aldus sers Kapp.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'