Update
MOSSELBAAI NUUSFLITS - Die twee booswigte wat vroegoggend op Vrydag, 26 Oktober 'n vrou in Danabaai aangerand en beroof het, is deur Kapt Ashley Michaels en twee van haar ondersoekbeamptes, sersante Kekaza en Ndala, in samewerking met reserviskonstabel Donovan Duitsjan ander lede van die polisie gearresteer.
Een van die verdagtes het onlangs stukwerk vir die vrou in haar tuin gedoen en was dus aan haar bekend. Die polisie het die vrou se juwele, selfoon en skootrekenaar skaars ses uur na die voorval teruggevind, maar soek steeds na die vuurwapen wat in die voorval gebruik is, aldus die KwaNonqaba-polisie se woordvoerder, sers Kapp.
Die KwaNonqaba-polisie bedank die gemeenskap vir die positiewe inligting wat tot die arrestasie van die twee kriminele, wat aan die polisie bekend is, gelei het.
Vroeër is verkeerdelik berig dat die vrou, wat alleen woon, 76-jaar oud is. Die polisie het pas bevestig dat die vrou inderwaarheid 67-jaar oud is. Sy is nie gehospitaliseer nie.
Die polisie maan weer eens inwoners om nie stukwerkers wat aan hulle onbekend is in diens te neem nie.
Lees 'n vorige artikel hier: 76-jarige Danabaai-vrou aangerand, beroof
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'