MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai Tuinbouklub het in April Leani Kwekery besoek. Ettie Jurgens en haar span het die groep baie gasvry ontvang waarna Linda Klein die geleentheid met pragtige gebed geopoen het. Die gasspreker was Kenneth Taylor.
Hy het sy praatjie begin deur die lede te vertel van die Suid-Kaapse verkleurmannetjie, waarvan hy twee saamgebring het om te wys.
Kenneth het wenke gegee oor hoe om tuine te onderhou en hoe om plante wat pas by die kwekery aangekoop is, te versorg. Sy wenk is, om by die kwekery te vra hoe dikwels die plante natgemaak word.
Vir die eerste twee weke moet dieselfde hoeveelheid water gegee word. Daarna kan jy begin om jou eie natmaakskedule toe te pas. Vetplante wat te veel water kry, kry wortelvrot. Meeste plante is droogtebestand.
Gee liefs water in die oggend en verkieslik nie op die blare nie, maar benat die grond. Maak liewers diep nat as elke dag 'n bietjie, want dit bevorder sterker wortelstelsels. Insekte, swamme en swartroes, skimmel is gewoonlik 'n teken van te veel water, veral in die aand.
Nog 'n paar watergeewenke is dat tamatieplante glad nie water op hul blare moet kry nie maar by die stam. Sodra 'n suurlemoenboom vrugte maak moet jy minder water gee.
Malvas hou nie van nat voete nie. Aalwyne wat geel is, kry te veel water en as hulle oranje is, dan kry hulle te min water. 'n Interessante wenk oor voeding wat Kenneth gegee het is om nie 'n plant by sy stam voeding te gee nie. Volgens hom moet jy kyk hoe wyd die plant groei en dan die kos daar inwerk.
Sy organiese wenke vir peste en plae by onder andere pietersielie is om Sunlight Liquid met kraanwater te meng en die plant daarmee te spuit. Vir wurms, maak 'n knoffel-ekstrak en spuit eetbare plante daarmee. Vir swartroes kan Jeyes Fluid so twee tot drie maal gespuit word, om die siklus van die insek te breek.
Oleum kan ook toegedien word en jy kry baie organiese insekdoders wat sistemies toegedien kan word. By aalwyne kan 'n aalwynblaar afgesny word en van die aalwyn se sap aan sy siektes gesmeer word.
Vir fungus op plante kan jy kopersulfaat spuit. Bossies tussen jou plaveisel kan ook met sout behandel word.
Gooi net die growwe sout op die plaveisel, maar sorg dat die water wat afloop van die plaveisel nie in 'n bedding in loop nie.
Kenneth het ook interessante wenke gegee deur voor te stel dat waar oorgeskakel is van gras na klippietuine, Weedguard gebruik kan word. Gelukstrekkings is deur Paulette le Roux en Hetsie Scheepers gewen en die uitlootplant deur Marie de Korte.
Die klub se volgende vergadering word op 10 Mei om 09:30 op die plaas Onverwags van Pierre Vermaak buite Riversdal gehou. Hy gaan lede meer vertel oor proteaboerdery. JJ de Kock van Ergonomic Garden Tools SA gaan sy Tornado-tuingereedskap demonstreer.
Lede word herinner om hulle stoele, bekers en hoede saam te bring. Pierre gaan koffie verskaf, bring net eie eetgoed. Lede vergader om 08:00 by die Engen One Stop op die N2, rigting Kaapstad. "Reël vooraf jou saamrygeleentheid."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'