MOSSELBAAI NUUS - Dit was 'n mooi Saterdagmiddag in Pretoria toe hulle op 24 April 1948 privaat deur ds Reyneke in die huwelik bevestig is. Privaat, verduidelik Wessel Oosthuizen (104) omdat hy en sy vrou van 70 jaar, Enna (90) nie 'n klomp gaste genooi het nie.
Tydens 'n geselligheid gereël deur vriende van Hartenbos waar hulle voorheen vir meer as vier dekades as afgetredenes gebly het, vertel Wessel met helderheid van sy lewe saam met Enna, wat solank 'n soetigheidjie geniet. Die paartjie woon sedert Julie 2017 in Fynbos Heights.
"Ons het op 'n blind date ontmoet in Kroonstad. Ek was in die polisie en sy het by die poskantoor gewerk."
'n Vriend, ook in die polisie, het met 'n vriendin van Enna uitgegaan en was glo verantwoordelik vir hulle ontmoeting. "Sy wou graag na 'n konsert toe gaan, maar het nie 'n metgesel gehad nie."
En dis toe daar wat hy wat Wessel is in die prentjie gekom het. Hy reken hy was maar te bly, want hy het hoeka voor hy Enna ontmoet het, te veel moeite met 'n vorige nooi gehad.
"En toe ontmoet ek 'n juweel. Ek kon nie vir beter gevra het nie. Ek het so baie by haar geleer." Hy sug.
Vriende het gesellig saam met die Oosthuizen-egpaar gekuier om hulle 70ste of platinum huweliksherdenking te vier.
Maar was dit liefde met die eerste oogopslag? Hoe lank is daar gekuier voor hulle besluit het om te trou?
Wessel dink 'n rukkie. "Ek is in 1946 oorgeplaas na Pretoria." Enna het hierna gevra om verplaas te word Pretoria toe. En toe op 'n dag het sy glo vir Wessel gesê hulle kan nie net so aangaan nie, dalk moet hulle maar trou.
"Ek wou eers nie trou nie. Dit was lekker om jonk te wees, tot die meisies vir my begin oom sê het," verduidelik hy so tong in die kies. Maar, hy voeg by op 'n ernstiger noot: "Ek was maar kopsku vir die huwelik, want ek het soveel lelike huwelike gesien."
Daar is te veel hoogtepunte, meen hy, in so 'n lang en wonderlike huwelik om net 'n paar uit te sonder. "Ons het baie dinge saamgedoen. En as daar 'n haakplek was, dan haak jy hom sommer gou weer los. Ons het nog nooit kwaad vir mekaar gaan slaap nie."
Wessel Oosthuizen het vir Enna op 'n blind date ontmoet in Kroonstad. Hy was in die polisie en sy het by die poskantoor gewerk.
Platinum word gereken as van die skaarste metale ter wêreld. Geen wonder dat die 70ste huweliksherdenking, die platinumherdenking genoem word nie.
* Wessel Oosthuizen was 'n krygsgevangene gedurende die Tweede Wêreldoorlog nadat hy in Noord-Afrika gevange geneem is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'