TUINROETE NUUS - Die Suid-Kaap Fynproewersgilde en hulle gaste vergader Donderdag 2 Augustus om 08:30 vir 09:00 by die Kobus Hattingh-saal in Glentana.
Die tema van dié demonstrasie is 'n nuwe aanslag in die voorbereiding van kosblikgeregte sonder dat dit 'n gat in jou beursie laat. Die idee is om die klassieke Oos-Asiatiese kookkuns te betrek en op 'n interessante manier te speel met geure wat alreeds bekend is aan die Suid-Afrikaanse smaak, maar waarvan daar nie dikwels genoeg gebruik gemaak word nie.
Die uiters bekwame en ervare sjef Hannes Russouw is die gassjef by hierdie geleentheid. Gedurende sy loopbaan van 11 jaar het hy sy opleiding by onder meer CAIA en die François Ferreira Akademie ontvang en het plaaslik sowel as in Dubai met sy talente as sjef gewoeker.
Van die vele hoogtepunte in sy loopbaan was sy deelname aan die eerste Kokkedoor-televisieprogram op kykNET, wenner van Rooi Rose se junior sjef van die jaar-kompetisie (2007) en naaswenner van Pick n Pay se Suid-Afrikaanse junior sjef van die jaar-kompetisie (2009).
Hy gaan die volgende geregte demonstreer: Gebakte salm- en roomkaas-yakatori, aarbei- en tuna-misoyaki, dadel-teriyaki en bees-teppanyaki, diepgebraaide lawasjokoladeontploffingsballetjies en 'hotteok' ('n Suid-Koreaanse pannekoek). Russouw sal self wyne vir proe aanbied om hierdie geregte te komplementeer.
Dit gaan 'n uithalerdemonstrasie wees met baie om te geniet en te leer. Gaste is hartlik welkom.
Kontak Elaine Louw by 083 263 5417 om plek te bespreek. 'n Kaartjie is R170. Alle belangstellendes word genooi om by die gilde aan te sluit. Hulle motto: "Niemand hier is kenners nie. Ons leer almal gesellig saam."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'