MOSSELBAAI NUUS - Met die statistiek van persoonlike verlies gely gereeld in die nuus, is die feit dat 'n Mosselbaaise vrou in 'n besige inkopiesentrum haar beursie met persoonlike dokumente asook kontant teruggekry het nadat dit vanuit haar handsak vermis geraak het, soos 'n vars bries.
Ita Janse van Rensburg, die vrywillger-koördineerder van die Hartenbos-parkrun het in 'n onlangse facebook-inskrywing van dié insident vertel, waarna sy verwys as "die beste en slegste dag van haar lewe".
Gedurende die langnaweek einde April, het Ita en haar vriend hulle maandelikse inkopies gaan doen. Hulle laaste stop was Mikeva wat as gevolg van die langnaweek en einde van die maand, stampvol was.
Toe Ita uiteindelik naby aan die betaalpunt kom, besef sy dat sy iets vergeet het. Weer terug by die betaalpunt, het sy tevergeefs gesoek na haar beursie. Sy vermoed haar skouersak het met die geskuifel tussen mense deur dalk oopgegaan en dat haar beursie op dié manier vermis geraak het.
Sy het dit dadelik by die bestuur en die sekuriteitspersoneel aangemeld. "Ek het my telefoonnommer vir hulle gegee, omdat ek weet dat diewe soms net die kontant vat en dan die res weggooi," verduidelik Ita. "Daar was 'n warboel van gedagtes. Ek het net gebid."
Ita is dadelik na die Da Gamaskop-polisiestasie om die voorval aan te meld. Daar is sy gehelp deur 'n vriendelike, "geselserige" polisieman. "Ek wou nie onbeskof wees en die gesprek kortknip nie, maar ek was regtig gespanne om by die bank te kom wat binnekort sou sluit, om my kaarte te stop."
Tot oormaat van ramp, was daar 'n fout in die verklaring en moes dit weer geneem word. Nietemin het Ita die bank betyds voor sluitingstyd gehaal.
Net gebid
In die bank, was sy weer in 'n ry. Met 'n seer knie, rugspiere in spasma en 'n dreigende hoofpyn, sê Ita, het sy onderweg bank toe en ook terwyl sy in die ry daar moes wag, net aanhou bid.
"Behalwe vir die kort rukkies wat ek moes vorentoe stap in die ry, het ek net tot Jesus gebid en gevra dat iemand ten minste my ID-boekie moet kry en dit aan my moet terugbesorg. Alles sou soveel makliker wees, sou ek net my ID-boekie kon terugkry."
Toe sy voor in die ry kom, lui haar foon. Dit was Mikeva wat gesê het dat haar beursie ingehandig is. Nie leeg nie - alles was steeds daarin gewees.
Die kontant, die ID-boekie, bestuurslisensie, krediet- en ander lojaliteitskaarte, selfs die kleingeld waarmee sy motorwagte betaal.
"Hallelujah! Ek dank Jesus vir al my seëninge. Dankie vir die spraaksame polisieman en die fout in die verklaring. Dankie vir die verkeer op pad bank toe en die lang ry in die bank. As dit nie vir hierdie vertragings was nie, sou ek my kaart gekanselleer het voor ek Mikeva se oproep gekry het en sou weke moes wag vir my kaarte en persoonlike dokumentasie."
Drukkies
Die seer knie ten spyt, is Ita dadelik terug Mikeva toe. "Ek het seker vir omtrent almal wat ek teëgekom het 'n drukkie gegee." Telkens is haar drukkie begroet met 'n "We are so glad for you Mama". Ita is 'n bekende en geliefde gesig by Mikeva en die nuus van haar skade het vinnig onder personeel versprei.
"Ek wens ek kon die persoon wat my beursie ingehandig het, ook 'n drukkie gee, maar die personeel het nie sy of haar besonderhede geneem nie.
"Aan daardie persoon wil ek net sê 'When my arms can't reach people who are close to my heart...I always hug them with my prayers'. Jy is na aan my hart, al weet ek nie wie jy is nie.
"My gebed is dat jy deur dieselfde welwillendheid aangeraak sal word as wat jy aan my bewys het."
Ita meen dat mense seker wat met haar gebeur het, op 'n wetenskaplike manier sou wou verklaar. Vir haar was dit net 'n goddelike wonderwerk.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'