LEEFSTYL NUUS - Is jy raadop met maniere om die kinders besig te hou?
Suid-Kaap Forum het by 'n gr. 1- onderwyser uitgevind hoe 'n mens kinders ure lank kan besig hou.
"Dink hoe gelukkig julle is om as gesin saam tuis te wees!" sê Estelle Strydom, wat al 32 jaar lank skool hou. "Onthou, die belangrikste is dat mamma en pappa soveel goed as moontlik saam met hulle kinders doen."
Hoe jy die kinders besig hou hang natuurlik af van hoe oud hulle is.
Hier is haar planne vir kinders van 2 tot 10:
Sit boontjiepitte tussen twee lae watte in 'n piering en hou klam. Hou die verwondering op die gesiggies dop as hulle sien hoe die boontjiepit ontkiem, begin uitloop en 'n worteltjie maak. As hulle die plantjie mooi oppas, kan dit dalk selfs so lank hou dat dit begin blare vorm. Plant dit in 'n bakkie potgrond en kyk hoe dit boontjies dra.
Julle kan ook die wortelent van 'n paar spriete grasuie, blaarslaai of seldery in 'n glashouer met water plaas en kyk hoe die worteltjies ontwikkel. Dieselfde geld vir 'n takkie roosmaryn, basiliekruid of ander sagte kruid. As die worteltjies sterk groei, kan hulle dit in potgrond plant. Laat hulle die kruie se blare oes vir 'n lekker slaai wat hulle self maak.
Bekyk goggas onder 'n vergrootglas. Laat hulle ontdek hoe die gogga uit 'n kop, borsgedeelte en agterlyf bestaan. Hoeveel pote het die gogga en waar aan die liggaam groei dit? Leer hulle hoekom die gogga 'n spesifieke kleur het - is hy gekamoefleer en hoekom is dit belangrik?
Maak insekte van toiletrolletjies of wat jy in die huis het. Vuurhoutjies kan vir pote gebruik word.
Verf, verf en nogmaals verf. Leer vir hulle watter is primêre, sekondêre en tersiêre kleure. Wys vir hulle hoe om kleure te meng om nuwe kleure te maak. Wat gebeur as jy wit of swart byvoeg? Laat hulle vingerverf met verskillende kleure doen en knip veelkleurige maskers daaruit. Maak 'n lint of rekkie weerskante vas sodat hulle die maskers kan dra. Maak ook veelkleurige vlerke om aan die 'goggas' te plak om 'n skoenlapper te maak.
Teken 'n lelike koronamonster en plak dit oral in die huis op om almal daarvan bewus te maak. Plak een bokant die wasbak en leer hulle om deeglik handjies met seep en water te was.
Kleurryke vingerverf is uitgeknip om die mooi hoenderhaan te skep. Foto's: Tisha Steyn
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'