Mnr Edgar Ntebe, KwaNonqaba se Gemeenskapspolisiëringsvoorsitter en een van die organiseerders, het gesê Erfenisdag word oor die breë spektrum gevier.
"Dit is die een dag waarop ons as Suid-Afrikaners ons kulturele erfenis en die diversiteit van ons herkoms en tradisies gesamentlik as 'n nasie kan vier.
Ons gedeelde erfenis maak van ons 'n reënboognasie wat gesamentlik aan die toekoms van Suid-Afrika kan bou."
In 'n vertoning van afsonderlike vaardighede het die nooddienste gesamentlik getoon dat hulle gereed is om enige noodsituasie die hoof te bied.
Raadslid Fortuin het die verritinge geopen deur die gemeenskap 'n heuglike Erfenisviering toe te wens en haar hoop uitgespreek dat hulle die boodskap van die dag se verrigtinge ter harte sal neem.
Sersant Jika, die kommunikasiebeampte van KwaNonqaba SAPD, het die gemeenskap gevra om seker te maak dat hulle nie vir elke noodgeval die SAPD kontak nie. Die onderskeie noodeenhede het elk 'n kontaknommer wat geskakel moet word om te verseker dat hulp so gou en effektief as moontlik gelewer kan word.
"Wanneer u die SAPD kontak as 'n huis brand, gaan kosbare tyd verlore as die polisielid aan diens op sy beurt die brandweer moet kontak. Maak seker u ken die regte telefoonnommers, berg dit op u selfoon," het sy die gemeenskap gemaan.
Mosselbaai Munisipaliteit se Hoof van Nooddienste, mnr Joey Johnston, het gesê maande se beplanning het die dag se verrigtinge voorafgegaan. Nie net die brandweer nie, maar lede van die munisipale en provinsiale verkeersdienste, die Metro nooddienste, die polisie en gevangenisdiens het tientalle toeskouers met hul vaardigheid vermaak. 'n Gesellige dag met musiek en die gebruiklike braai het die nooddienste se vertonings gevolg.

Verteenwoordigers van die verskillende nooddienste op Mosselbaai help 'n 'beseerde' op 'n draagbaar nadat lewensbelangrike toerusting gebruik is om haar uit 'n motorwrak te bevry.