MOSSELBAAI NUUS - Franco van Huyssteen, Mosselbaai se wenner van die onlangse King of Beards-kompetisie sê daar gaan liefde in 'n baard in. Dié jong man met sy indrukwekkende baard van 26cm het in Mei 2016 in Mosselbaai hervestig agter sy trekpleister, Annelize aan. Hy boer tans met wild en vee.
Hoe hy aan sy baard gekom het, skerts hy, is omdat hy nie die mees lojale skeerder is nie. "Ek het maar 'n bietjie van 'n baby face daarsonder en dalk is dit ook om my dubbelken so 'n bietjie weg te steek," spot hy verder met homself.
Op 'n ernstiger noot meen hy dat 'n baard manlik lyk, 'n beeld waarvan hy nogal hou. Sy wenke vir 'n gesonde baard wat goed vertoon, is dat dit skoon en versorg moet wees. "Ek stort elke oggend, dan was ek my baard, wend opknapper aan en borsel my baard.
"Ek gebruik ook 'n baardolie. Nou nie elke dag nie, maar olie is belangrik vir 'n baard."
Baarde is nie eintlik in hulle familie nie, sê hy, aangesien hy die enigste seun is. "My pa sal so gedurende die winter 'n baard groei, deesdae ook maar grys," lag hy.
Annelize is mal oor Franco se baard. Die paartjie is in April 2019 getroud. "Voor ons troue het hy so laat val dat hy dalk sy baard wil skeer om my te verras op ons troudag. "Toe sê ek nee asseblief nie, want dit sal voel of ek met 'n vreemdeling voor die kansel staan. So ek love die baard."
Annelize het met Franco 'n weddenskap aangegaan dat as sy baard op sy naeltjie hang, sy hom sal trakteer vir 'n vakansie na Thailand.
"Ons sal maar moet sien of dit wel gaan gebeur," sluit sy af.
Die tweede en derde plekke in die kompetisie is onderskeidelik deur Hendrik de Lange en Ruan Fourie ingepalm.
Ruan Fourie se baard het 'n derde plek behaal.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'