MOSSELBAAI NUUS - Die beweerde nie-betaling aan werknemers deur ‘n kontrakteur wat aangestel is om watermeterlesings te neem, word in ‘n ernstige lig deur die munisipaliteit gesien.
Dié stelling deur die Mosselbaai-munisipaliteit volg na beweringe dat meterlesers wat vir die kontrakteur gewerk het, nie betaling ontvang het nie.
“Die kwessie van betaling moet deur die betrokke werknemers direk met die kontrakteur opgeneem word,” adviseer die munisipale woordvoerder, mnr Colin Puren.
Puren sê die munisipaliteit het wel na klagtes die kontrakteur by herhaling daarvan in kennis gestel. Volgens die kontrak betaal die munisipaliteit op faktuur basis en daar is geen agterstallige gelde verskuldig aan die kontrakteur nie.
Plaaslike mense aangestel
Die aanstelling van plaaslike meterlesers is tydens ‘n vergadering met die kontrakteur bespreek, waar die munisipaliteit verseker is dat die kontrakteur wel voornemens is om van plaaslike meterlesers gebruik te maak. Die kontrakteur was egter genoodsaak om van buite persone gebruik te maak weens meterlesers wat bedank het. “Hierdie kwessie sal weer met die kontrakteur opgeneem word,” het Puren by navraag bevestig.
Uitgekontrakteer
“Mosselbaai munisipaliteit is tans besig met die implementering van ‘n nuwe meterlesingtenders wat uitgekontrakteur is aan IKAPA RETICULATION AND FLOW. Hulle is per Tender 83-16/17 aangestel, waarop alle wetlike vereistes nagekom is. Dit sluit die bestuur en programmatuur vir die lees van water- en elektrisiteitsmeters in.
Nuwe lesingskedule
‘n Nuwe lesingskedule word geïmplementeer wat daartoe mag lei dat lesingsdatums moontlik kan skuif vir u area. Met die nuwe lesingskedule poog ons om lesingsdatums nader aan heffingsdatums te bring, wat verbruikers in staat sal stel om beter kontrole oor verbruike te kan uitoefen deur vroeër bewus te word van hoë verbruik. U kan ook self u lesing inbel om te verseker dat daar nie ‘n skatting op u rekening gedoen word nie.
Identiteit
Elke meterleser behoort identifiseerbaar te wees met IKAPA-kleredrag en ‘n IKAPA-identifikasiekaartjie. Indien persone nie duidelik identifiseerbaar is nie kan u die Munisipaliteit kontak. Ons vra graag u samerwerking om IKAPA by te staan tydens die implementerings fase deur te verseker dat hul wel vrye toegang tot meters verkry.
Die beweerde wanprestasie deur die kontrakteur word op hierdie stadium deur die Munisipaliteit ondersoek en indien nodig sal dienooreenkomstige aksie geneem word.
Vir enige verdere navrae vanaf kliënte wat van mening is dat hul lesings foutief blyk te wees, kan gerus Mosselbaai Munisipaliteit se dienste-afdeling kontak by 044 606 5046 / 044 606 5040 / 044 606 5000.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'